|

AfriForum gaan klag van haatspraak en aanhitsing teen NMS lê

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om ’n strafregtelike klag van aanhitsing tot geweld teen die Nelson Mandela Stigting (NMS) voor te berei ingevolge Artikel 18 van die Wet op Oproerige Byeenkomste 17 van 1956, asook ’n klag van haatspraak ingevolge die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie 4 van 2000.

Dit volg op die NMS se mediaverklaring van 10 Junie 2020 oor die dood van George Floyd in die Verenigde State en die betogings in dié verband. Die NMS sê in sy verklaring: “The use of violence can be rational and carefully targeted as part of a strategy to counter structural and other forms of violence against Black lives. And, of course, it ought always to be so.”

“Die NMS se ontstellende uitspraak is ’n verheerliking van en aanhitsing tot geweld. Dit dui daarop dat die NMS glo dat dit geteikende gewelddadige optrede kan regverdig, afhangend van wie die teikens van dié gewelddadige optrede is, sonder dat enige gevolge hom in die gesig te staar. Gewelddadige dreigemente soos dié het geen plek in enige gemeenskap nie. Die feit dat ’n organisasie van die NMS se status ’n regverdiging van geweld op so ’n nonchalante wyse kan publiseer, is inderdaad kommerwekkend en spreek vanself,” sê Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

AfriForum het ook ’n klag van haatspraak teen die NMS by die Gelykheidshof aanhangig gemaak.

Volgens Roets beskou AfriForum die regverdiging van en aanhitsing tot geweld deur die NMS as uiters gevaarlik en roekeloos. “AfriForum sal daarom die nodige stappe doen om te verseker dat reg deur middel van die gepaste regskanale geskied. Ons versoek die owerheid dringend om dié geval van geweldaanhitsing deur die NMS met die erns te ondersoek wat dit verdien. Op dié wyse sal ’n sterk boodskap oor die onaanvaarbaarheid van geweldaanhitsing uitgestuur word,” sluit Roets af.

Soortgelyke plasings