--> -->
Spyskaart +

AfriForum gaan klag teen SARU by IRR indien oor kwotas in rugby

Junie 23, 2014 deur Juran van den Heever

Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om voorbereidings te tref om ‘n amptelike klag teen die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) se rassekwotabeleid by die Internasionale Rugbyraad (IRR) in te dien en ondersoek in te stel na die moontlikheid om ook ‘n saak daarteen te voer by die Internasionale hof vir Sportarbitrasie. AfriForum se reaksie volg op die nuus dat SARU se president, Oregan Hoskins, pas aan die Sprinbok-afrigter, Heyneke Meyer, opdrag gegee het dat ras voortaan ‘n groter rol in die samestelling van die Springbokspan moet speel.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verbied die IRR se reëls uitdruklik enige vorm van rassediskriminasie en politieke inmenging in rugby.

“SARU se rassevoorskrifte aan die Springbokafrigter is ‘n kru vorm van rassediskriminasie en ‘n aanduiding dat SARU voor die minister van sport, Fikile Mbalula, se kwota-dreigemente geswig het,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat dit nie in belang van Suid-Afrikaanse rugby, spelers of dié sport se ondersteuners is dat SARU blatant die IRR se reëls oortree nie. Ordinansie 3 van die IRR se reëls en regulasies plaas ‘n verpligting op die IRR om enige vorm van rassediskriminasie in rugby te verhoed. Regulasie 20 bepaal ook dat enige optrede in rugby wat op grond van ras diskrimineer, op “wangedrag” neerkom. Ingevolge ordinansie 9.4(r) kan die IRR dissiplinêr optree teen enige rugbyliggaam wat die reëls en regulasies oortree.

AfriForum is volgens Kriel ten gunste van rugbyontwikkeling, sodat die geleentheid aan almal gebied kan word om aan rugby deel te neem.

“ʼn Rassekwota-beleid benadeel talentvolle spelers van alle rasse. Wit spelers word benadeel as hulle ter wille van rassevoorskrifte nie gekies kan word nie en swart spelers omdat die geldigheid van hulle opname in die spanne onder verdenking geplaas word,” het Kriel bygevoeg.

SARU en die regering behoort hulle versuim om op skoolvlak jong talent te ontwikkel, reg te stel met verskerpte ontwikkelingsprogramme, eerder as om op hierdie kunsmatige wyse rassegetalle te probeer manipuleer.