|

AfriForum gaan hofaansoek oor ou landsvlag teenstaan

AfriForum gaan die Nelson Mandela-stigting (NMS) se aansoek om die ou Suid-Afrikaanse landsvlag as haatspraak te verklaar, teenstaan.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, verduidelik dat AfriForum nie die ou vlag gebruik nie en dat dié organisasie se teenkanting van hierdie aansoek, wat op 27 Februarie by die gelykheidshof in Johannesburg ingedien is, bloot op gesonde regsbeginsels en ’n pleidooi vir konsekwentheid geskoei is.

In dié hofaansoek vra die NMS dat die “sinnelose” tentoonstel van die ou Suid-Afrikaanse landsvlag as haatspraak, onregverdige diskriminasie én teistering verklaar moet word.

Die stigting argumenteer dat wanneer veral swart mense die vlag sien, hulle voel dat hulle menswaardigheid geskend word.

Lunga Nene, woordvoerder van die stigting, het in ’n mediaverklaring gesê dat die vlag die pyn van miljoene swart Suid-Afrikaners demonstreer.

AfriForum is as ’n respondent in die saak gevoeg, nadat daar foto’s van mense met die ou landsvlag by verlede jaar se “Swart Maandag”-optogte op sosiale media versprei het. Volgens Nene het dié foto’s die stigting oortuig dat die tyd aangebreek het om op te tree.

Hierdie foto’s is later egter as fopnuus verklaar omdat dit nooit tydens die optogte geneem is nie.

“Die NMS voer aan dat die vlag aanstootlik is en om daardie rede verban moet word. Aanstootlikheid is egter nie voldoende rede om ’n simbool te laat verban nie. Om die waarheid te sê, die wese van spraakvryheid is daarin gesetel dat mense soms aan aanstootlike standpunte blootgestel word,” meen Roets.

In sy teenkanting van hierdie saak sal AfriForum voorleggings maak om aan te dui dat dieselfde NMS-argumente netsowel aangevoer sou kon word om die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party- (SAKP-) en die ANC-vlag te laat verban.

AfriForum voer verder aan dat die gebruik van die landsvlag, sonder aanhitsing tot geweld of ander optrede, volgens die grondwet, gelykheidswet en internasionale tendense, nie haatspraak is nie.

Die Instituut vir Geregtigheid en Versoening (IJR) het aan Forum Nuus gesê dat hulle die NMS se aansoek ondersteun en saamstem dat die tentoonstel van die ou Suid-Afrikaanse landsvlag as haatspraak verklaar moet word.

Met verwysing na ’n blog van die grondwetkenner prof. Pierre de Vos, waarin hy aanvoer dat haatspraak gereguleer word deur artikel 10 van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, meen Carolin Gomulia, die IJR se kommunikasie hoof: fondsinsameling en strategie, dat die gebruik van die ou landsvlag beslis as haatspraak verklaar moet word.

Dié wet sluit uitlatings in wat redelik verkeerdelik geïnterpreteer kan word met die bedoeling om ’n groep seer te maak gebaseer op hul grond van hul ras, geslag, seksuele oriëntasie, geloof, en so meer.

“Dit is duidelik dat die gebruik en tentoonstel van die ou vlag haatspraak is en dat dit die regte van ander beperk of daarteen diskrimineer.”

Sy sê voorts dat die IJR vryheid van spraak ondersteun en die waarde daarvan verstaan en respekteer, maar dat die tentoonstel van die vlag vir duidelike redes die meerderheid van Suid-Afrikaners sal seermaak en sal aanhou om pyn te veroorsaak vir die miljoene mense wat onder apartheid gely het.

Die vertoon van die ou landsvlag by “Swart Maandag”-optogte het verlede jaar ook ’n emosionele debat by ’n vergadering van die DA se parlementêre koukus veroorsaak.

Luidens mediaberigte het Mmusi Maimane, DA-leier, in die vergadering voorgestel dat die party ’n veldtog van stapel moet stuur om die tentoonstel van die vlag te laat verbied.

Meeste sprekers het nie Maimane se voorstel ondersteun nie en hy het later aan Rapport gesê dat hy geen verbod op die vlag ondersteun nie, hoewel die vlag vir hom beledigend en afstootlik is.

Gavin Davis, voormalige beleidshoof van die DA, was een van die sterkste teenstanders teen Maimane se voorstel. Hy meen die DA is ’n liberale party en dat die verbod op die ou vlag kan beteken dat die volgende stap is om die Afrikaanse deel van die volkslied te verwyder.

Die ou Suid-Afrikaanse vlag pryk ook tans op ’n sypaadjie op die grond in Stellenbosch by die Woordfees met onder andere die name van Kallie Kriel, FW de Klerk, Steve Hofmeyr, PW Botha en Riaan Cruywagen daarop.

Johan Pienaar, ’n Stellenbosse aktivis wat onder meer betrokke was by die #OpenStellenbosch-beweging, is verantwoordelik vir dié “protes-installasie” wat verbygangers die geleentheid gee om op die vlag te trap of daaroor te loop.

Pienaar het op sosiale media gesê dat die vlag én die mense wie se name daarop is, vir hom afskuwelik is en dat die uitstalling ’n uitnodiging is om deel te neem aan die gesprek oor die ou landsvlag.

Die sanger Steve Hofmeyr het op sosiale media gegrap en gesê dat hy R1 500 vir dié vlag sal aanbied. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê hy beskou dit as ‘n kompliment as die insluiting van sy naam op die vlag daarvan getuig dat hy die “klein groepie Afrikaanse linkses” grensloos irriteer.

Soortgelyke plasings