--> -->
Spyskaart +

AfriForum gaan hof nader oor ongekwalifiseerde waterwerkepersoneel

Desember 9, 2015 deur Mariska Batt

 

AfriForum het ’n kennisgewing op die departement van water en sanitasie (DWS) beteken van die organisasie se onderneming om regstappe teen die DWS te neem omdat die departement weier om die kwalifikasies van werknemers wat op gespesifiseerde waterwerke in Suid-Afrika werksaam is, bekend te maak.

“Die waterkrisis het vererger. Met beperkte watervoorraad en dalende watergehalte weens rioolbesoedeling is ons nou selfs méér bekommerd oor die bekwaamheid van waterwerkepersoneel wie se verantwoordelikheid dit is om ons waterinfrastruktuur te bestuur en onderhou, en gehaltestandaarde te verseker,” het Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, gesê.

AfriForum het die belangrikheid beklemtoon van kwalifikasies en werksondervinding van mense wat met water werk. “’n Gekwalifiseerde en ervare dokter opereer byvoorbeeld op slegs een pasiënt peer keer. Aan die ander kant is ’n persoon wat by Rand Water werk vir die lewens van 12 miljoen mense verantwoordelik, en moet daar verseker word dat dié mense veilige drinkwater het,” het Kleynhans bygevoeg.

Die regulasies in terme van die Wet op Waterdienste, 1997 – Verpligte standaarde vir prosesbeheerders en waterdienswerke – vereis dat werknemers by waterwerke-aanlegte oor die nodige kwalifikasies moet beskik.

AfriForum het me Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, versoek om inligting oor die kwalifikasies van werknemers van 21 uitgesoekte waterwerke in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 te voorsien. Dié waterwerke is in die volgende dorpe geleë:

1.    Vryburg

2.    Dealesville

3.    Kimberley

4.    Lichtenburg

5.    Emalahleni

6.    Modimolle

7.    Cradock

8.    Standerton

9.    Ermelo

10.  Ventersdorp

11.  Brits

12.  Hartbeespoortdam

13.  Bloemhof

14.  Thabazimbi

 

15.  Leeupoort

16.  Petrus Steyn

17.  Oudtshoorn

18.  Deneysville

19.  Olifantsfontein

20.  Kuruman

21.  Brandfort

Nota: ’n Waterwerke kan ’n drinkwater- of afvalwateraanleg wees.

“Ons het meer as genoeg bekwame en ervare mense om die waterbedryf in Suid-Afrika te bestuur – selfs privaat maatskappye wat dié verantwoordelikhede kan oorneem. Politiekery ruïneer egter dié belangrike sektor. Ons sal alles in ons vermoë doen om ’n volhoubare toekoms vir water vir die mense van Suid-Afrika te bewerkstellig,” het Kleynhans bygevoeg.