Spyskaart +

AfriForum gaan GROOT met Afrikaanse musiek

Augustus 20, 2015 deur afriministrator

Kallie-Kriel-CEO-of-Afriforum

AfriForum gaan sy jaarlikse Afrikaanse musiekfees by die Voortrekkermonument vervang met groot, nuwe projekte om Afrikaanse musiek te bevorder.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het aangedui dat die organisasie se nuwe planne binnekort bekendgestel sal word, sodra al die kontraktuele verpligtinge met vennote in die nuwe projekte afgehandel is.

Kriel het wel laat blyk dat die nuwe projekte ’n groter platform aan top Afrikaanse sangers sal gee, maar dat die projekte veral daarop sal fokus om ontluikende Afrikaanse sangers te identifiseer en te help ontwikkel.

Volgens Kriel glo hy dat Afrikaanse musiekliefhebbers wat teleurgesteld mag wees omdat die AfriForum-musiekfees nie weer in sy huidige formaat gaan plaasvind nie, baie opgewonde sal wees wanneer AfriForum se nuwe planne bekendgemaak word.

AfriForum se Afrikaanse musiekfees het in sy agtjaarbestaan gegroei van 10 000 feesgangers tot ’n hoogtepunt van meer as 30 000. “Die fees was ’n reusesukses, maar dit is nodig om voortdurend vernuwend te dink om Afrikaanse musiek tot hoër hoogtes te voer,” het Kriel gesê.

Kriel het almal bedank wat ’n rol gespeel het om AfriForum se musiekfees oor die afgelope agt jaar ʼn sukses te maak. Die plaaslike koerant, Rekord, wat as media-vennoot by die fees betrokke was, het volgens Kriel ’n sleutelrol gespeel om die fees uit te brei. “Sonder die steun en optrede van die meeste top Afrikaanse sangers en talle ontluikende kunstenaars, asook die lojale steun van feesgangers, sou die fees nie moontlik gewees het nie,” het Kriel bygevoeg.

Van die top Afrikaanse sangers wat die afgelope agt jaar by die AfriForum-musiekfees opgetree het, sluit onder andere Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, Dewald Wasserfall, Karlien van Jaarsveld, Lianie May, Jay, Kurt Darren, Elizma Theron, Adam Tas, Pieter Koen, Sorina Erasmus, oftewel Die Flooze, Gerrie Pretorius, Arno Jordaan, Klopjag, Pieter Smith, Jakkie Louw en wyle Fredi Nest in.