AfriForum en WSSA stel noodwaterplan in Kaapstad in werking


Die droogte wat die hele land in ’n wurggreep het, het die burgerregte-organisasie AfriForum genoop om met ’n waterplan vorendag te kom. Die eerste fase van hierdie plan is die oprig van noodwaterpunte in Kaapstad, wat ten doel om weerlose mense in die gemeenskap van water te voorsien as #DagZero sou aanbreek. Die eerste waterpunt gaan by AfriForum se susterorganisasie Solidariteit Helpende Hand se skenkingskantoor in Kaapstad opgerig word.
Daar word drie waterpunte in Kaapstad beplan. Die eerste waterpunt is ’n 10 000 liter-tenk wat Maandae tot Saterdae water aan mense in die omgewing gaan voorsien. Die tenk word gevul met waterskenkings wat aan SANS 241-standaarde voldoen. Die volgende twee waterpunte sal elk 20 000 liter water daagliks kan lewer. AfriForum-takke sal ook waterontsmettingsprodukte versprei in gebiede waar daar ʼn risiko van waterbesoedeling is. Plastiekbottels kan ook na dié waterpunte geneem word vir herwinning.

“Bykomend tot dié projek werk AfriForum ook baie nou met Water Shortage South Africa (WSSA) saam om die waterkrisis die hoof te bied. Gemeenskappe moet aan hul dorpe se waterbestuur begin deelneem om beurtwater in die toekoms te vermy en op ’n meer onafhanklike wyse volhoubare watertoevoer te verseker,” sê Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum.

Volgens Benoit Le Roy, hoof uitvoerende beampte van WSSA, is dié organisasie tans besig om gebottelde mineraalwater by meer as 24 waterpunte in Gauteng in te samel. Dié water word geskenk deur individue, godsdienstige instellings en maatskappye. Die water word dan deur vrywilligers ingesamel en met geborgde vervoer na Kaapstad vervoer en onder mense in waternood versprei.

“Ons het die afgelope twee weke meer as 100 000 liter water per week na Kaapstad te stuur om weerlose persone te help. Die WSSA glo dat Kaapstad inderdaad ’n groot krisis in die gesig staar: Slegs 50 liter water per persoon per dag in ’n moderne wêreldstad met Dag Zero wat soos ’n swaard oor die stad hang. Ons het daarom besluit om weer met AfriForum saam te werk om die weerloses in ons gemeenskap meer doeltreffend by te staan,” sê Le Roy.

AfriForum se landswye takstrukture word ingespan om water in te samel, terwyl die Kaapstad-tak die waterpunte gaan bestuur. AfriForum se omgewingsake-afdeling gaan die volhoubaarheid van waterbronne en skenkings moniteer, en watergehalte verseker. AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling gaan ’n gesamentlike operasiesentrum oprig om waterpunte te beveilig en risiko-ontleding te doen. AfriForum se plaaslikeregeringsafdeling sal met munisipaliteite skakel om hul op hoogte van die organisasie se aktiwiteite te hou.
AfriForum se teenkorrupsie-eenheid is ook besig om wanbesteding in die nasionale department van water en sanitasie te ondersoek. Strafregtelike klagtes sal teen die rekenpligtige beampte van dié departement ingedien word as die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (wet no. 1 van 1999) oortree is. Dit sou onaanvaarbaar wees as die departement belastinggeld wanbestee het terwyl droogtehulp geweier word.
Hierdie noodwaterplan is reeds in die verlede in onder meer Calvinia, Kroonstad, Senekal, Biesiesvlei en Paulpietersburg in werking gestel toe watertoevoer daar beperk was. In hierdie gevalle het AfriForum skoon drinkwater aan die gemeenskap voorsien, terwyl die regering aangespreek is en meer volhoubare langtermyn- waterprojekte geïmplementeer is.
Enige persoon wat ’n finansiële bydrae tot AfriForum se noodwaterfonds wil maak, kan AfriForum se webblad by www.afriforum.co.za besoek. Persone wat ander bydraes wil maak, soos die beskikbaarstelling van store met vurkhysers, vragmotors, die aanry van water of ’n waterbron soos ’n boorgat, kan AfriForum direk by 086 10 200 30 kontak.
Sluit vandag by AfriForum aan: SMS “Water” na 45354 (R1).

Soortgelyke plasings