AfriForum en TKAG keer hidrobreking in die Karoo met hofsaak


Die burgerregte-organisasie AfriForum en die Treasure the Karoo Action Group (TKAG) se appèlaansoek teen die ministers van minerale hulpbronne en omgewingsake vir die tersydestelling van die regulasies oor petroleumeksplorasie en produksie – soos afgekondig in 2015 en wat vir hidrobreking in Suid-Afrika voorsiening maak – het geslaag.

’n Volbankregters het vandag in die appèlhof in Bloemfontein in AfriForum en TKAG se guns beslis. AfriForum en die TKAG is reeds jare lank saam in litigasie gewikkel om die inwerkingstelling van hidrobreking vir gasontginning in die Karoo te verhoed.
AfriForum en die TKAG het volgehou dat die regulasies op verskeie gronde onwettig is. Die hof het inderdaad beslis dat die minister van minerale hulpbronne nie die mag en bevoegdheid gehad het om die regulasies vir petroleumeksplorasie en -produksie in werking te stel nie. Die minister van omgewingsake moes wel eienaarskap van die proses en regulasies neem.
Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê dat hierdie ’n groot oorwinning is om te verseker dat ons omgewing bewaar word.

“Ons moet verseker dat die volgende geslagte ’n plek het om volhoubaar te kan leef en ons kan nie bekostig om kortsigtige besluite te neem nie.”

Hy sê die uitspraak bewys ook die noodsaaklikheid dat die departemente van minerale hulpbronne en omgewingsake eerder met organisasies soos AfriForum en die TKAG moet beraadslaag as om blatant voort te gaan en verkeerde besluite te neem.
Jonathan Deal, uitvoerende hoof van TKAG, sê vandag se uitspraak regverdig die bekommernisse wat AfriForum en die TKAG oor die regulasies en tegnologie vir hidrobreking het.

“Die oorwinning is moontlik gemaak danksy AfriForum se volgehoue steun en hulpbronne om die hofstryd te voer. AfriForum beskerm burger- en menseregte en werk vir die gemeenskap en die man op straat. Ons sal saam met hulle voortgaan om die land teen die skade van hidrobreking te beskerm.
“Suid-Afrika het eenvoudig nie genoegsame hulpbronne om hierdie bedryf te hanteer nie – water is nie ’n hulpbron waarmee ons kan mors nie,” meen Deal.

Shell het reeds sy hidrobrekingplanne in die Karoo afgeskaal weens volgehoue druk deur AfriForum en die TKAG.
AfriForum en TKAG het dié hofaansoek met koste gewen.

Soortgelyke plasings