|

AfriForum en SOS eis uitstel van kennisgewing oor GDO-skoleplasings – regsaksie mag volg

AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het die Gautengse departement van  onderwys (GDO) in ’n prokureursbrief dringend versoek om die uitstuur van kennisgewings oor skoleplasings tot 16 Oktober 2019 uit te stel. Dié kennisgewings word per SMS aan ouers van voornemende graad 1- en graad 8-leerders gestuur. Dít volg nadat lede van AfriForum, wat ook lede van beheerliggame van skole in Gauteng is, AfriForum en die SOS om hulp in die verband genader het.

Die lede kon bewyse lewer van tientalle teenstrydighede en onreëlmatighede in die plasingslyste wat deur die GDO aan hulle voorsien is. Van die individue het ook getuig dat die probleme reeds verskeie kere onder die GDO se aandag gebring is, maar dat sogenaamde hersiene lyste weer dieselfde, of nuwe probleme ingesluit het.

“Op 27 Augustus 2019 het die GDO in ’n skrywe onderneem dat alle teenstrydighede uitgesorteer sou word, alvorens die plasingsinligting aan ouers gestuur word. Dit is egter duidelik dat die tyd nou te min is om alle probleme uit die weg te ruim, wat beteken dat groot ongelukkigheid en verwarring onder ouers sal volg indien plasingsinligting, gebaseer op die huidige lyste, versend sou word,” sê Carien Bloem, AfriForum se bestuurder vir onderwys.

In die skrywe wat vandag gestuur is, word die GDO tot besigheidsluitingstyd vandag gegun om te reageer. Indien geen reaksie of bevestiging van uitstel teen daardie tyd ontvang is nie, sal AfriForum en die SOS gedwing wees om die hof op ’n dringende basis te nader om die uitstuur van inligting aan ouers te verhoed, totdat hierdie probleme uitgestryk kan word.

Enige verdere klagtes rondom Gauteng se skoleplasings vir 2020 kan  na onderwys@afriforum.co.za gestuur word.

Soortgelyke plasings