AfriForum en Solidariteit uitspraak oor UV-taalbeleid baan weg vir konstitusionele hofsaak


AfriForum en Solidariteit se regspan het vandag ’n aansoek om verlof by die Konstitusionele Hof ingedien om teen die hoogste hof van appèl se uitspraak oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) te appelleer. Die instellings vra die hof om die UV se besluit om ’n nuwe taalbeleid te aanvaar, ter syde te stel.
Hierdie aansoek volg ná die uitspraak van die appèlhof op 28 Maart 2017 ten gunste van die UV se pasaanvaarde taalbeleid waarvolgens Engels met infasering vanaf 2017, ten koste van Afrikaans, die enigste primêre taal van onderrig word.
Teen die agtergrond van die grondwetlike opdrag om diversiteit (waaronder taalkundige diversiteit) te bevorder, asook die verskanste reg tot onderrig in ’n taal van keuse wat redelikerwys uitvoerbaar is, argumenteer AfriForum en Solidariteit dat die UV-raad nie integrasie in klasverband en transformasie van die universiteit kan bereik deur Afrikaanse onderrig te skrap nie.
In sy uitspraak het die appèlhof toegegee dat die erosie van Afrikaans se posisie as taal van onderrig ’n regmatige bron van kommer is en dat verskille oor die taalbeleid van die universiteit tot ingewikkelde grondwetlike vrae aanleiding gee. AfriForum en Solidariteit meen dat hierdie standpunte ruimte skep vir sukses met die aansoek om appèl tot die Konstitusionele Hof. Hul regspan is gereed om ten gunste van Afrikaanssprekende studente se reg tot Afrikaanse onderrig in dié hof te argumenteer. Daar word gretig op die Konstitusionele Hof se besluit gewag.

Soortgelyke plasings