|

AfriForum en Solidariteit span kragte saam teen polities gedrewe sportkwotas

Die vakbond Solidariteit en die burgerregte-organisasie AfriForum het gesamentlik ’n veldtog teen rassekwotas geloods.

Solidariteit gaan môre in die arbeidshof in Johannesburg argumenteer dat die ministerie van sport en ontspanning se transformasiehandves tersyde gestel moet word. Dit sal die toepassing van kwotas by verskeie sportliggame beëindig.

Solidariteit en AfriForum het in Maart 2017 daarin geslaag om spesifieke kwotapersentasies vir verskeie sportsoorte ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) te bekom. Dié inligting ontbloot dat die bedoeling van die sportowerhede met betrekking tot kwotas veel verder strek as net spankeuses. Dit behels selfs die rassesamestelling van afrigters, raads- en komiteelede en ondersteuningspersoneel.

Werner Human, adjunkhoof van Solidariteit, sê hulle gaan hof toe, want as die transformasiehandves goedgekeur word, het Tokozile Xasa, minister van sport, bykans onbeperkte mag oor sport.

Die aansoek word deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Krieket Suid-Afrika (KSA), Ateletiek Suid-Afrika (ASA), Netbal Suid-Afrika (NSA) en die minister teengestaan.

Human sê om met kwotas in sport vol te hou, en sportsoorte in Suid-Afrika verder te politiseer, is ’n resep waarvolgens alle spelers verloor word.

Hy het ook verwys na verlede week se omsendskrywe van Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (Sasa) waarin skole opdrag gegee is dat minstens 40% van skoleatletiekspanne op alle vlakke voortaan uit atlete van voorheen benadeelde groepe moet bestaan. “Dit is aanduidend van hoe ver en drasties die rassekwotastelsel in sport verwikkeld geraak het. Sou Solidariteit met die hofaansoek slaag, sal dit die einde van dié soort skrywes wees.”

Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, sê die organisasie het reeds ’n prokureursbrief aan Sasa gestuur om aan te dui dat die saak in die hof beveg sal word.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die organisasie sê nee vir sportkwotas nie net omdat dit jongmense se drome vernietig nie, maar ook omdat dit wit en bruin beroepsportlui en werknemers in elke werkplek se loopbane benadeel. “Kwotas in sport is nie net strydig met internasionale sportregulasies nie, maar laat die vraag ook ontstaan of wit deelnemers aan sport dan tweedeklas-burgers is.”

Volgens Kriel is ’n kwotastelsel die duidelikste bewys dat die regering sy plig om sport in Suid-Afrika te ontwikkel, heeltemal versuim het. “AfriForum beywer hom vir die normalisering van sport, want dit is normaal om die beste span ongeag ras te kies sonder enige politieke inmenging.”

Soortgelyke plasings