|

AfriForum en Solidariteit sal UV-studente se reg op Afrikaanse onderrig tot op hoogste vlak verdedig

Uitspraak is gister voorbehou in die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se appèlaansoek teen die Bloemfonteinse hooggeregshof se uitspraak teen die implementering van die universiteit se omstrede taalbeleid wat daarop gemik is om Afrikaans vanaf 2017 as onderrigtaal uit te faseer.

Die UV wil met dié beleid Engels volgende jaar as primêre onderrigtaal instel vir eerstejaarstudente in die mediese, regs- en geesteswetenskapfakulteite.

Die appèl is gister aangehoor nadat die hof in September verlof tot appèl aan die UV toegestaan nadat AfriForum en Solidariteit die universiteit vroeër hof toe gesleep het oor sy taalbeleid.

Die UV-bestuur appelleer tans teen die uitspraak oor die beleid self asook die implementering daarvan. Daar is nog nie ’n datum vir die appèlsaak teen die grondwetlikheid van die taalbeleid bekend gemaak nie.

Dít volg nadat AfriForum Jeug in Augustus klagtes van studente uit verskeie fakulteite van die UV ontvang het dat klasse wat oorspronklik in Afrikaans beskikbaar was, toenemend slegs in Engels aangebied word.

Volgens die prokureur en taalaktivis Cerneels Lourens, sal die appèlhof in Bloemfontein ʼn medepligtige tot die diepliggende skending van taalregte wees indien hy teen AfriForum en Solidariteit se saak beslis.

Hy het aan Forum Nuus gesê dat hy bekommerd is dat die hof se uitspraak teleurstellend gaan wees en dat hy tans baie negatief is oor die appèlhof se houding teenoor Afrikaans.

“As ons nie meer op howe se integriteit kan staatmaak om taalregte aan te pak nie, weet ek nie wat vir ons gaan oorbly nie,” sê hy.

“Indien die hof ten gunste van die UV beslis, sal dit wys dat hul nie ʼn sentiment tot taalregte het nie en polities gemotiveerd is.”

Hy meen dit wil voorkom asof die hof klaar ʼn mening het oor die implementering van die omstrede taalbeleid. “Ek hoop egter dat ek verkeerd bewys sal word.”

Volgens Annelise de Vries, taalbeplanningsdeskundige van AfriForum, is die burgerregte-organisasie en Solidariteit se regspan gereed vir dié appèlsaak.

“Ons bly daartoe verbind om studente aan Kovsies se reg tot Afrikaanse onderrig tot op die hoogste vlak te verdedig,” het sy gesê.

Soortgelyke plasings