|

AfriForum en Solidariteit gaan grondwethof nader oor Covid-hulp-uitspraak

AfriForum en Solidariteit gaan die  Konstitusionele Hof direk nader met ’n appèlaansoek teen die uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria wat beslis dat die departement van toerisme wel ras as maatstaf vir die toekenning van Covid-19-hulp mag gebruik.

Regter Jody Kollapen het sy uitspraak in dié saak vandag per e-pos aan AfriForum en Solidariteit, die applikante in die saak, gestuur.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die organisasie het besluit om die Konstitusionele Hof direk te nader, aangesien die klein toerisme-ondernemings wat deur lede van minderheidsgemeenskappe besit word, tans net soos alle ander klein toerisme-ondernemings dringend hulp benodig. “As die saak sloer, sal talle kleinsakeondernemings in wit besit ondergaan en sal die regering aandadig wees aan – figuurlik gesproke – ekonomiese moord op minderhede.”

Kriel meen dit is belangrik dat lede van minderheidgemeenskappe klaarheid by die Konstitusionele Hof kry oor of dit werklik die geval is dat die huidige grondwetlike bedeling in so ’n mate minderhede se regte ondermyn dat daar selfs tydens krisisomstandighede teen wit mense gediskrimineer mag word.

“Indien dit wel so is, sal minderheidgemeenskappe moet besef dat hulle slegs op hulle eie gemeenskappe aangewese is en dat stappe gedoen sal moet word sodat lede van minderheidsgemeenskappe mekaar kan ondersteun om oorlewing te verseker. AfriForum het voorsien dat die regering sy rug op ondernemings vanuit minderheidsgemeenskappe gaan draai en het gevolglik reeds www.afriforumnetwerk.co.za tot stand gebring waar kleinsakeondernemings gratis kan registreer sodat lede van hul plaaslike gemeenskappe hulle daar kan opspoor en ondersteun.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, meen ook dit is noodsaaklik dat Suid-Afrika regsekerheid moet kry of die Grondwet dit toelaat dat daar in ʼn ramptoestand op grond van ras gediskrimineer kan word om vir hulp te kwalifiseer.

Kollapen het beslis dat die departemente se kriteria nie aan sekere kandidate ’n onregverdige voordeel op grond van ras bied nie, maar eerder tot gevolg het dat die effek daarvan vir daardie kandidate tot ’n voorsprong lei.

Die organisasies was vandeesweek in die hof om te versoek dat Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, se voorgestelde regulasies dat klein-, medium- en mikro-ondernemings (KMMO’s) op grond van ras, ouderdom, geslag en gestremdhede vir Covid-hulp oorweeg moet word, hersien moet word. Die fonds hiervoor ter sprake is die Toerisme Verligtingsfonds.

Die organisasies het geargumenteer dat die pandemie nie op grond van ras teen sy slagoffers diskrimineer nie en dat dit dus immoreel van die regering is om hulp op hierdie gronde aan te bied. “Dit is nie net wit eienaars van ondernemings wat geraak word nie, maar ook alle werknemers in die bedryf waarvan twee uit elke drie swart is. Honger en nood ken geen kleur nie,” het Hermann gesê.

Kollapen sê in sy uitspraak dat die betrokke minister wel by magte is om op grond van bemagtiging die regulasies te bepaal. Hy meen bemagtiging kan nie losgemaak word van die gevolge van die Covid-krisis nie. Hy meen voorts die sluiting van swart ondernemings weens die krisis sal ’n terugslag vir transformasie in die land wees.

Hy sê voorts daar kan ook nie weggekom word van die feit dat sekere kategorieë mense weens onregverdige diskriminasie van die verlede betekenisvol gely het nie.

Hy stem nie saam met die applikante dat die Toerisme Verligtingsfonds nie as ’n bemagtigingsfonds bestempel kan word nie omdat dit in ’n krisistyd verligting aan alle ondernemings moet gee wat noodgedwonge moes sluit.

Kollapen voer aan die Covid-19-krisis het die benadeling van die verlede juis uitgelig en daarom moet die ongelykheid van die speelveld ook erken word.

“Dit is tragies dat Solidariteit hom nou tot die grondwethof moet wend omdat die regering daarop aandring om voort te gaan met sy diskriminerende rassemaatstaf wat gestel word om vir noodfondse te kwalifiseer. Hierdie optrede van die regering kan op geen manier geregverdig word nie,” sê Hermann.

Soortgelyke plasings