|

AfriForum en Solidariteit bring rassediskriminasie in SA sport onder wêreld se aandag

’n Afvaardiging van AfriForum vertrek vandeesweek na die buiteland om by internasionale sportliggame beswaar aan te teken teen politieke inmenging in sport en diskriminerende sportkwotas.

Die afvaardiging onder leiding van Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal met van die besture van die internasionale liggame vergaderings hê, terwyl ’n omvattende verslag oor die impak van transformasie in sport in Suid-Afrika ook ingedien sal word. Die titel van die verslag is: Transformasie in SA Sport: Telbord nie in regering se guns.

Die liggame wat besoek sal word, sluit in Wêreldrugby (WR) in Dublin, Ierland, die Internasionale Netbalfederasie (INF) in Manchester, Brittanje, die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) in Monaco, die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) in Lausanne, Switserland, en die Internasionale Krieketraad (IKR) in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).

AfriForum het ook vroeër vanjaar in samewerking met Solidariteit hofstukke by die arbeidshof ingedien waarin die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Krieket Suid-Afrika (KSA), Atletiek Suid-Afrika (ASA), Netbal Suid-Afrika (NSA), die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), asook die minister van sport en ontspanning uitgedaag word om rassekwotas voor die hof te verdedig.

Volgens die organisasies is rassekwotas nie net teen die wet nie, maar druis dit ook in teen vasgestelde internasionale norme wat enige politieke inmenging in sport verbied.

Die saak in die arbeidshof sal na verwagting eers in 2018 aangehoor word. Die fokus van dié saak sal op kwotas wees wat teen arbeidswetgewing en die Wet op Gelyke Indiensneming indruis.

Henk Maree, AfriForum se woordvoerder, sê politieke inmenging in sport is direk in stryd met die reëls en regulasies van die internasionale sportliggame wat besoek gaan word. “In die vorige bedeling het die ANC aangevoer dat meriete alleen die maatstaf moet wees, maar nou volg hulle nie hul eie standpunt nie.”

Volgens Maree is inmenging in sport deur politici bloot ’n manier waarop hulle goedkoop blootstelling vir hul eie agendas wil kry. “Die enigste wyse waarop politici en die regering volhoubaar tot sport kan bydra, is om op verantwoordelike besteding van fondse vir die ontwikkeling van jong sportlui se talente te fokus.”

Anton van der Bijl, woordvoerder van Solidariteit, sê die regering se afdwinging van strawwe rassekwotas is geen verrassing nie. “Die regering se rasse-ideologie is lankal sigbaar en kan nie die ANC se rasgedrewe motiewe verbloem nie. Daarom moet die hof geleenthede wat belowende en talentvolle sportlui deur rassekwotas ontneem word, veroordeel.”

Verskeie bekende sportlui steun AfriForum en Solidariteit se veldtog teen onbillike en onregverdige sportkwotas.

Die publiek word aangemoedig om hul steun te wys en hul naam by die klag te voeg wat ook ingedien gaan word. Besoek AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za of stuur jou naam na 45113. SMS kos R1.

Soortgelyke plasings