|

AfriForum en Solidariteit bereik geskiedkundige ooreenkoms met ANC

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die burgerregte-organisasie AfriForum en die vakbond Solidariteit asook lede van die ANC/SAKP/Cosatu-alliansie het vandag ’n bilaterale vergadering in Pretoria gehou wat daarop gemik is om ’n vreedsame, stabiele en volhoubare akademiese program aan die Universiteit van Pretoria (UP) te verseker.

’n Ooreenkoms is opgestel na aanleiding van ’n reeks gebeure wat vandeesweek tot die sluiting van die UP gelei het nadat die instansie onder erge protesaksies van onder meer EFF-studente gebuk gegaan het. Die partye het vroeër vandeesweek byeen gekom om die pad vorentoe te bespreek.

Hope Papo, ANC-sekretaris in Gauteng, het op ’n nuuskonferensie gesê niemand het die reg om geweld of intimidasie te gebruik om hul boodskap oor te dra nie.

“Universiteite moet die kern van intellektuele gesprekke en debatvoering wees, nie die kern van geweld en oproer nie.”

Hy het voorts gesê dat die EFF-lede se vlak van geweld nie toepaslik en nodig is in ’n demokratiese land nie. “Ons het nie eens in apartheid, in die tydperk wat ons jong vryheidsvegters was, dit gewaag om ’n universiteit se gebou af te brand nie.”

Lede van die ANC-alliansie het beklemtoon dat hoewel die ooreenkoms op UP fokus, hulle hoop die boodskap na ander tersiêre instellings sal oorspoel.

“Geen taal wat beskerm word deur die Suid-Afrikaanse Grondwet moet ‘val’ nie,” het Papo gesê.” Hy meen dit is nie deel van die ANC se beleid om een taal bo ’n ander te bevoordeel nie.”

Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die organisasie het verskeie kere probeer om met lede van die EFF in gesprek te tree. “Studente op kampus sê nie dat hulle deur swart studente aangeval word nie, maar deur EFF-lede. Dit was dus nie ’n rassegeveg nie, maar ’n politieke een.”

Die partye het saamgestem dat hoewel hulle verskillende standpunte oor verskeie sake huldig, hulle geïnspireer is deur die gees van veelpartygesprekke en dialoogpraktyk wat insluitend, deursigtig en breedweg verteenwoordigend is van uiteenlopende denke.

“Die bevordering van gehalte-onderrig is die doeltreffendste manier om armoede in die land te pak. Dit bepaal jou werksekuriteit, vlak van inkomste en vermoë om te sorg vir jouself en jou gesin. Ons kan nie toelaat dat opportunistiese politieke partye die veiligheid van ons universiteite se studente en werknemers belemmer nie,” het Flip Buys, voorsitter van die  Solidariteit Beweging, gesê.

Die partye het ooreengekom om intimidasie, ontwrigting, geweld en pogings om die universiteitsgemeenskap op rassegrondslag te polariseer onvoorwaardelik te veroordeel. Dat daar gesprekke moet wees rondom die transformasie van die universiteit en die taalbeleid. Voorts het almal onderneem om hul steun te gee vir die heropening van die universiteit op Maandag 29 Februarie.

Die partye het ook ooreengekom om rondom bogenoemde sake saam te werk om te verseker dat Tukkies in diens van die land, die ekonomie en mense in hul diversiteit is.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die meerderheid swart en wit studente wil in ’n vreedsame omgewing studeer waar daar wedersydse respek vir alle rasse en tale is. Hy meen egter dat dié studente se stemme stilgemaak word deur ’n klein groep radikales.

“Ons as lede van die Solidariteit Beweging en die ANC wil daarom met hierdie ooreenkoms saam ’n sterk boodskap oordra dat ons saam kan staan wanneer ons belange dieselfde is. Ons staan dus saam op teen geweld, intimidasie en  die bevordering van moedertaal-onderrig in die land.”

 

 

 

Soortgelyke plasings