| | |

AfriForum en Solidariteit appelleer teen ras as maatstaf vir hulp

AfriForum en Solidariteit se regsspanne het vandag hofstukke uitgereik waarin hulle die Konstitusionele Hof direk op ’n dringende basis nader om appèl aan te teken teen die hooggeregshof se beslissing wat aan die departement van toerisme die groen lig gee om met die toekenning van Covid-19-hulp, ras as maatstaf te gebruik om te bepaal watter sukkelende ondernemings gehelp moet word.

Dr Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het daarop gewys dat die toekenning van hulp op grond van ras bisar is. “Dit is skrikwekkend dat daar grondwetlike ruimte in ’n krisis soos hierdie kan wees waar die toekenning van noodfondse op grond van ras kan geskied,” het Herman bygevoeg.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is daar besluit om die Konstitusionele Hof direk te nader, aangesien die klein toerismebesighede wat deur lede van minderheidsgroepe besit word, tans net soos alle ander klein toerismebesighede dringend hulp benodig. “As die saak sloer, sal talle kleinbesighede in wit besit ondergaan en sal die regering aandadig wees. Figuurlik gesproke is dit ekonomiese moord op minderhede,” het Kriel gesê.

Volgens Hermann is dit van uiterse belang dat regsekerheid oor die aangeleentheid verkry word. “Aangesien dit ’n dringende krisis is, is ons van mening dat die saak ook dringend is en daarom het ons gevra dat ons toegang tot die Konstitusionele Hof vir dié saak kan kry,” voer Hermann aan.

Kriel het ook daarop gewys dat dit belangrik is dat lede van minderheidsgroepe klaarigheid by die Konstitusionele Hof kry oor of dit werklik die geval is dat die huidige grondwetlike bedeling in so ’n mate minderhede se regte ondermyn, dat daar selfs tydens krisisomstandighede teen wittes gediskrimineer mag word.

Solidariteit se aanvanklike klag is op 25 Maart by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien toe dit aan die lig gekom het dat die departement van toerisme daarop aandring om van swart ekonomiese bemagtigingsvereistes (SEB) gebruik te maak met die toekenning van hulpfondse. Op 30 Maart is ’n dringende aansoek op die departement beteken en die saak is op 28 April in die Noord-Gautengse hooggeregshof saam met ’n soortgelyke saak van AfriForum aangehoor.

Beide AfriForum en Solidariteit het aangedui dat hulle gereed is om die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitwissing van alle rassediskriminasie (CERD) hieroor te nader, maar dat hulle met dié appèl na die Konstitusionele Hof eers poog om die saak plaaslik te beredder. “Sou ons pogings plaaslik nie vrugte afwerp nie, het Solidariteit en AfriForum geen ander keuse as om die saak internasionaal verder te voer nie,” het Hermann gesê.

Soortgelyke plasings