AfriForum en School of Life besoek Laerskool Helderkruin vir leierskapsontwikkeling


Die burgerregte-organisasie AfriForum het in samewerking met Manie Botha van School of Life en die sanger Brendan Peyper op 1 Februarie 2019 by die Laerskool Helderkruin in Roodepoort besoek afgelê om leierskapsontwikkeling te bevorder.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en hoop in ons skole te skep. Vandag se kinders is die leiers van môre – elke kind verdien leiding om hul leierseienskappe te ontwikkel,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Ek glo dit is noodsaaklik om deur middel van opleiding, rigtinggewing en ondersteuning in ons jongmense te belê. Só help ons om vandag se leiers, maar ook die leiers van die toekoms, te skep. Dit bly ’n voorreg om só saam met ouers, onderwysers en die gemeenskap hande te vat,” sê Manie Botha.
“Leierskap is ’n keuse – ’n leier word nie noodwendig gebore nie en kan ook gevorm word. By Laerkool Helderkruin word alle Graad 7-leerders as leiers verkies en dan in verskillende taakrade verdeel, sodat elke leerder ’n geleentheid kry om hul leiereienskappe te ontwikkel. Daar is onder andere ‘n sport-, boelie-, kultuur-, sosiale en gemeenskapsraad,” sê Elaine Steyn, onderwyseres en voog van die boelieraad by Laerskool Helderkruin.
“Ek dink die belang van leierskapsontwikkeling is om te besef dat jy elke persoon rondom jou beïnvloed deur jou sienings en houding teenoor die lewe. Wees selfversekerd oor jou uniekheid en moenie voel dat jy iemand moet naboots om jou identiteit te vind nie – vind eerder jou identiteit in jouself en in God,” sê die sanger Brendan Peyper.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by AfriForum se teenboelieveldtog of leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings