AfriForum en SAPD trek kaper in Vryburg vas


Die gesamentlike optrede van die AfriForum-buurtwag in Vryburg se protospan en die SAPD het Woensdagnag (22 Augustus 2018) daartoe gelei dat ’n motorkaper in dié dorp vasgetrek is. AfriForum se Kuruman-buurtwag het die Vryburg-buurtwag van dié kaping – wat in Kuruman plaasgevind het – in kennis gestel.
Twee buurtwaglede in Vryburg het die verdagte voertuig gewaar, waarna hulle die protospan en die SAPD onmiddellik ontbied het. Die voertuig het op die Schweizer-Reneke-pad uitgejaag en is deur sowel die protospan as die polisie agterna gesit. Tydens die jaagtog het ’n oor-en-weer-skietery tussen  die kapers en die SAPD plaasgevind. Die motor het deur ’n versperring gejaag en só uiteindelik tot stilstand gekom. Een van die kapers is op die toneel in hegtenis geneem, terwyl twee ander te voet op die vlug geslaan het.

“Dit is verblydend om te sien dat buurtwagte goed met mekaar en die SAPD saamwerk om misdaad doeltreffend te bekamp,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum doen ’n beroep op die hele gemeenskap om betrokke te raak en self hul veiligheid te prioritiseer. Die publiek kan nie slegs op die staat vertrou om na hul veiligheid om te sien nie. Raak by enige plaaslike veiligheidsinstelling betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word sodoende deel van die oplossing: SMS “Vryburg” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings