AfriForum en SAPD sluit samewerkingsooreenkoms om misdaad te bekamp


AfriForum en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het vandag ’n geskiedkundige ooreenkoms gesluit om ’n geïntegreerde benadering te volg om veiligheid uit te bou en gemeenskapsamewerking in die bekamping van misdaad te versterk.
Dié ooreenkoms vorm die hoogtepunt van ontmoetings tussen die twee organisasies, met die oog op die verbetering van wedersydse kommunikasie en skakeling, asook om probleme in terme van misdaad gesamentlik te identifiseer en op te los.
Die partye onderneem in die samewerkingsooreenkoms om –

  • mekaar wanneer nodig en waar toepaslik behulpsaam te wees;
  • met mekaar te skakel om vas te stel hoe AfriForum sy aktiwiteite met die strategiese doelwitte van die SAPD kan belyn; en
  • te verseker dat inligting wat van gevestigde AfriForum-gemeenskapsveiligheidstrukture verkry is en wat die SAPD behulpsaam kan wees om misdaad te voorkom, bestry en ondersoek, met mekaar gedeel word.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê dat dié ooreenkoms ruimte skep vir beter kommunikasie tussen AfriForum en die SAPD, asook die geleentheid vir beide instellings om meer inligting met mekaar te deel in die poging om misdaad in die land te bekamp.

“Die SAPD het AfriForum se veiligheidstruktuur vanoggend amptelik as vennoot in die geveg teen misdaad erken. Deur dié tipe samewerking kan ons van Suid-Afrika ’n veiliger plek maak.”

Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale kommissaris van die SAPD, sê dat die SAPD verbind is tot die voorkoming en bestryding van misdaad oor alle gemeenskappe heen.

“Ons het in die afgelope jaar met AfriForum geskakel en bevestig dat hierdie struktuur ’n belangrike rol te speel het in die deel van inligting, asook met aktiwiteite teen misdaad en ondersteuning aan die SAPD om geïdentifiseerde gemeenskappe by aktiwiteite teen misdaad te betrek,” sê lt.genl. Phahlane.
“Deur die implementering van die Back to Basic-benadering het die SAPD by herhaling bevestig dat die vestiging van vennootskappe oor alle gemeenskapsfere heen ’n integrale rol speel in die versekering dat almal in Suid-Afrika veilig is en voel.
“Die samewerkingsooreenkoms tussen die SAPD en AfriForum is een van die tasbare uitkomste van dié benadering, wat daarop gemik is om na alle gemeenskappe in ons multikulturele omgewing uit te reik,” sluit lt.genl. Phahlane af.

AfriForum en die SAPD sien uit na ’n langdurige en produktiewe verhouding wat tot voordeel sal strek van alle gemeenskappe wat hulle bedien.

Soortgelyke plasings