| | | |

AfriForum en Princess Gabo Foundation bemagtig Tswana-gemeenskap om COVID-19 te bekamp

AfriForum en die Princess Gabo Foundation bemagtig die Tswana-gemeenskap om COVID-19 te bekamp deur instruksies vir die maak van tuisgemaakte wasbare maskers in Setswana op te stel en onder gemeenskapslede te versprei. Die instruksies sal versprei word en die maskermakery sal gekoördineer word met hulp van plaaslike tradisionele leierskapstrukture en ander gemeenskapsinstellings.

Twee stelle instruksies sal versprei word. Die eerste stel instruksies verduidelik hoe ’n katoen-T-hemp gebruik kan word om ’n masker te maak deur net ’n skêr te gebruik. Die tweede stel instruksies verduidelik hoe om ’n masker te maak deur ’n naaimasjien of naald en garing te gebruik. Sosio-ekonomiese realiteite bepaal dat instruksies nie duur materiaal of gespesialiseerde masjiene behels nie. Gemeenskapslede met die nodige vaardighede en naaimasjiene kan wasbare maskers vir hulle hele gemeenskap verskaf.

“In ’n tyd soos die huidige wanneer ons getref word deur ’n siekte wat nie kleur, klas of sosiale status ken nie, is ek van mening dat ons almal moet saamstaan. Nou is die tyd om die mure af te breek wat ons rondom onsself gebou het wat ons vooruitgang belemmer, terwyl ons ook ons kulturele identiteit bewaar en ontwikkel. Ons kan vooruitgaan net as ons saam oplossings kry, sonder om die ‘ons en hulle’-narratief te bevorder. Dit is ’n tyd vir dienende leierskap wat passievol is oor gemeenskappe en gemeenskapsontwikkeling. Ons organisasie is dus van mening dat ons met almal moet saamwerk, en ek het groot waardering vir hierdie geleentheid,” sê Kgosatsana (Prinses) Gabo Moroka-Motshabi, voorsitter van die Princess Gabo Foundation.

Om begrip van die kompleksiteite van die pandemie teweeg te bring en om gemeenskappe te mobiliseer om hulle gedrag te verander om die verspreiding van die virus te beperk, is dit noodsaaklik om inligting in die huistaal van soveel gemeenskappe as moontlik beskikbaar te stel. AfriForum het gevolglik besluit om instruksies vir die maak van tuisgemaakte maskers in inheemse tale op te stel in samewerking met gemeenskapsorganisasies om in hierdie kritieke behoefte te voorsien en tot die veiligheid van gemeenskappe dwarsoor die land by te dra.

“Gemeenskappe het die vermoë om maskers vir elke gemeenskapslid te verskaf deur inisiatiewe soos dié, iets wat die regering eenvoudig nie sal kan doen nie. Prinses Gabo het AfriForum vertroud gemaak met die Setswana-gesegde ‘Emang, lo itireleng, lo tshwaragangeng!’, wat losweg vertaal kan word as ‘Staan op, neem verantwoordelikheid, werk saam!’ – bevestiging van ’n gemeenskaplike gees van selfstandigheid wat ook die kern van ons benadering is,” sê Barend Uys, woordvoerder vir Interkulturele Samewerking by AfriForum.

Die Princess Gabo Foundation werk in hierdie tyd ook hard om hulp te verleen deur waardige noodvoedselpakke aan huishoudings in die gemeenskap te verskaf. Tans word bykans 1 000 huishoudings bereik, en die organisasie soek steeds voortgesette ondersteuning omdat die nood groot is. Prinses Gaboilelwe Moroka-Motshabi beywer haar ook vir voedselsekerheid en gemeenskapsontwikkeling in die dorpie Nogas Post, waar sy as ’n tradisionele leier dien.

Klik hier vir die instruksies.

Soortgelyke plasings