AfriForum en Pretoria FM vat hande vir ’n skoner omgewing


Lede en personeel van die burgerregtewaghond AfriForum het op Saterdag 1 Julie 2017 in samewerking met Pretoria FM die gebied rondom die Makro-winkel in Centurion skoongemaak. Dié skoonmaakaksie het ten doel om omgewingsbewustheid te bevorder en is deur Pretoria FM van stapel gestuur, wat ook regstreeks vanaf die perseel uitgesaai het.
Sowat 110 mense het aan die aksie deelgeneem en meer as 200 sakke rommel is opgetel.

“Dis ’n voorreg om aan projekte te kan deelneem wat ’n positiewe impak op die omgewing het,” sê Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake.

Volgens Hennie Koortzen, stasiebestuurder by Pretoria FM, beplan hulle om volgende jaar weer so ’n projek aan te pak.

“Pretoria FM het dié projek van stapel gestuur, omdat Junie wêreldomgewingsmaand was en het daarmee gepoog om bewusmaking te skep asook ’n voorbeeld te stel deur  self aksie te neem. Pretoria FM bedank voorts die volgende rolspelers en borge vir hul betrokkenheid en ondersteuning: Theron’s Vleisprodukte, Menlyn Park-winkelsentrum, Koopkrag en Makro SA.”

Word jou dorp se vullis swak bestuur? SMS die naam van jou dorp na 45354 en gee AfriForum die mandaat om proaktief op te tree en ook ʼn verskil in jou dorp te maak. Elke SMS kos R1.

Soortgelyke plasings