AfriForum en Gaan Groen Knysna skenk bome vir vleilandprojek


AfriForum en Gaan Groen Knysna het op 16 Februarie 2018 bome aan die Knysna Plaaslike Munisipaliteit geskenk, wat geplant is by die vleiland in Brenton (Knysna). Dit volg nadat die vleiland tydens verlede jaar se verwoestende brande baie skade gely het. Dié aksie is ook ter viering van Wêreldvleilanddag wat op 2 Februarie vanjaar plaasgevind het.

“Bome bind en stabiliseer die grond vir optimale rehabilitering, skep ’n omgewing vir beter plantegroei, dien as ’n habitat en verskaf voedsel vir die breër biodiversiteit in ’n vleiland,” sê Chris Boshoff, koördineerder vir omgewingsake by AfriForum.
“Ons finale aanslag, wat deel uitmaak van Internasionale Vleilandweek, was die plant van tien inheemse bome by die ou Brenton-stortingsterrein. Baie dankie aan AfriForum vir die skenk van die bome. Elke boom is deur ’n plaaslike inwoner ‘aangeneem’ en sal versorg word sodat ons ’n klein woud hier kan vestig,” sê Pamela Booth, bestuurder van omgewingsbeplanning by die munisipaliteit.
“Dit is vir AfriForum belangrik om vleilande te bewaar en te verseker dat ons noodsaaklike ekostelsels optimaal funksioneer binne unieke biodiversiteite. AfriForum is sensitief vir die gebruik van water gedurende die droogtekrisis, daarom is ’n vleiland ’n ideale plek om bome te plant, omrede ons nie munisipale water uit die stelsel neem om die bome nat te lei nie,” sluit Boshoff af.

SMS jou naam na 45354 (R1) om hierdie AfriForum-aksie te ondersteun.

Soortgelyke plasings