|

AfriForum en Evolve Life besoek Laerskool Helderkruin-leiers

Die burgerregteorganisasie AfriForum het in samewerking met Evolve Life se Manie Botha op 14 Februarie 2020 besoek by die Laerskool Helderkruin in Roodepoort afgelê om die nuwe leiers te help ontwikkel.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en hoop te skep in skole. Elke kind in ons land verdien om die nodige leiding te kry om hul leierseienskappe te ontwikkel – ons kinders is immers die leiers van môre,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir juniorjeugleierskap.

“Ek glo dit is uiters noodsaaklik om die jeug op te lei en te ondersteun. Sodoende help ons nie net met die opheffing van vandag se leiers nie, maar ook met dié van môre. Dit bly ’n voorreg om saam met ouers, onderwysers en die gemeenskap hande te vat in die opheffing en uitbouing van ons jong leiers,” sê Botha, spreker en lewensafrigter van Evolve Life.

“Leierskap is ’n keuse; ’n leier word nie altyd gebore nie, maar kan ook gevorm word. By die Laerskool Helderkruin word alle graad 7-leerders as leier verkies en in verskillende taakrade verdeel sodat elke leerder die kans kan kry om hul leierseienskappe te ontwikkel,” meen Elaine Steyn, onderwyser en voog van die boelieraad by die Laerskool Helderkruin.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za of nicolene.muller@afriforum.co.za indien jou kind se skool by AfriForum en Evolve Life se leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings