AfriForum en Ernst Roets se hofsaak oor vlag-twiet uitgestel

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, sou vandag in die Suid-Gautengse hooggeregshof op aanklagte van minagting van die hof verskyn het. Die saak is egter tot môre (4 September) uitgestel, aangesien die regter bevind het dat daar nie plek op die dringende rol is nie.

Die klagte is deur die Nelson Mandela-stigting gelê nadat Roets ’n afbeelding van die ou Suid-Afrikaanse vlag getwiet en gevra het: “Did I just commit hate speech?”

Die klagte het betrekking op ’n onlangse beslissing deur Regter Phineas Mojapelo dat die onnodige openbare of private tentoonstelling van die ou Suid-Afrikaanse vlag op haatspraak neerkom.

Die Nelson Mandela-stigting het klagtes teen sowel Roets in persoon as AfriForum gelê. Hoewel Roets en AfriForum al op rekord gesê het dat hulle nie die ou vlag ten toon stel nie, staan hulle die aanklagte teen onder meer op grond daarvan dat Roets se twiet binne die omvang van die uitspraak geplaas is. Hulle sal ook pleit vir burgerlike vryhede en standpunt inneem teen sensorskap en verbanning.

Soortgelyke plasings