AfriForum en Dr David Klatzow verwelkom bevindings van WNNR oor Knysna-brande

 

Die burgerregte-organisasie AfriForum en dr. David Klatzow, forensiese wetenskaplike, verwelkom die bevindinge van die WNNR se Meraka Instituut oor die oorsprong van die Elandskraal-brand wat tot groot skade en lewensverlies aan Knysna en omliggende streke gelei het.
Die WNNR se verslag bevestig in groot detail waar, wanneer en hoe die Elandskraal-brand ontstaan het. Dit bevestig ook dat die Klatzow-verslag korrek is. Die WNNR het ’n hoogs wetenskaplike ontleding van die oorsprong van die brand gedoen. Van die nuutste tegnologie is gebruik, gekombineer met kundigheid en ervaring oor die onderwerp. Dit word vertrou dat die bevinding finaal sal bevestig wat die oorsaak van die brand was en presies waar dit ontstaan het.
Groot omstredenheid het rondom die Klatzow-verslag oor die Knysna-brande geheers omdat dit ’n ander oorsaak en ligging aangedui het as die Knysna Plaaslike Munisipaliteit se verslag wat deur hul voormalige brandweerhoof, Clinton Manuel saamgestel is. In die Manuel-verslag is bevind dat dennebolle wat deur mense aan die brand gesteek is, die oorsaak was van die vuur.

Reint Dykema, kennisbestuurder van AfriForum en AfriForum-woordvoerder vir die Knysnabrande-aangeleentheid en wat dr. Klatzow met die opstel van sy verslag vergesel het, het die volgende opgemerk: “Voor 7 Junie 2017 is daar etlike voorbeelde van verskillende persone wat die smeulende vuur onder die Knysna munisipaliteit se aandag gebring het. Gegewe die droogte gedurende die voorafgaande periode, sou ’n mens verwag het dat enige risiko van moontlike brande volledig ondersoek sou word en dat gepaste stappe in plek gestel sou word om die vure te blus. Daar is beproefde metodes om ’n smeulende vuur te blus.
“AfriForum sal dit verwelkom as die Knysna munisipaliteit hom amptelik distansieer van die ‘Clinton Manuel’-verslag met spesifieke verwysing na die foutiewe aanduiding van die plek en die oorsaak van die Elandskraalbrand. Dit word ook vertrou dat die munisipaliteit ’n interne ondersoek sal loods na hoekom die Knysna- en Sedgefield-brandweer verkies het om die smeulende Elandskraal-brand te ignoreer,” sê Dykema.

Soortgelyke plasings