AfriForum en bewaringsinstellings staan verskuiwing van Steyn-standbeeld teen


AfriForum en verskeie ander bewaringsinstellings, insluitend die Bloemfonteinse Kultuurvereniging, die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys in Bloemfontein en die Gereformeerde Geloofsbond (wat gemeentes regoor Suid-Afrika insluit en waarby 32 gemeentes geaffilieer is), het vandag beswaar aangeteken teen die uitreiking van ’n permit deur die Vrystaatse Provinsiale Erfenishulpbronagentskap (VPEHA). Dié permit verleen toestemming aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) om die standbeeld van pres. M.T. Steyn van die UV se Bloemfontein-kampus na die Oorlogsmuseum te verskuif.

In AfriForum se appèl teen die uitreiking van die permit word onder meer beklemtoon dat die verskuiwing eerder studente op die kampus sal polariseer as om respek en samehorigheid onder hulle te bevorder.
Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir erfeniskwessies, vergestalt M.T. Steyn die ideaal van ’n eie Vrystaatse universiteit – ’n doelstelling wat hy ywerig bevorder het. Hy verdien daarom hierdie erkenning op die kampus. Dit beteken allermins dat geen ander beelde van rolspelers bygevoeg mag word nie. Om hom egter te verwyder op grond van eietydse ideologiese oorwegings druis in teen die aanhef van die Suid-Afrikaanse Grondwet wat verklaar dat ons almal sal respekteer “wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel”.

“Dit is die plig van ’n onderwysinstelling soos die UV en ’n instansie soos die VPEHA om as erfenisbewaarders te verseker dat openbare ruimtes die volle verhaal van die verlede uitbeeld. Erfenishulpbronne soos standbeelde kan nie na willekeur deur elke generasie in openbare ruimtes verander word om by een groep se subjektiewe mening op ’n spesifieke tydstip of magsagenda aan te pas nie. Dit moet met oordeel bewaar word sodat komende geslagte ook hulle objektiewe interpretasie daarby kan voeg en van die soet en suur van die verlede kan kennis neem.”
“Indien die beeld verskuif sou word, kan Afrikaanse studente en personeel van die UV tereg vra of hulle nog welkom op die kampus is.”

AfriForum versoek lede van die publiek wat die appèl teen die permit en verskuiwing van die standbeeld wil ondersteun om die beswaarskrif by https://afriforum.co.za/steyn-moet-bly/ te onderteken, of om “Steyn” na 42315 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings