|

AfriForum en bekendes klim Kilimanjaro vir behoeftige studente

Ses dae, 78 km, vier stappers en een gróót berg.

Meyer Le Roux, een van die baasbreine agter die Buffelsfontein Baard-olie-handelsmerk, die sanger Chris Chameleon, Elrich Yssel van Forum Films en Nantes Kelder, koshuisvader van De Goede Hoop, gaan oor ’n maand die grootste berg in Afrika uitklim om fondse in te samel vir behoeftige studente wat in die De Goede Hoop-koshuis wil bly.

De Goede Hoop is in 2016 gestig om ’n veilige tuiste te bied vir studente wat Christelik en trots Afrikaans is, waar hulle gesonde studentetradisies kan uitleef en hulle persoonlik, emosioneel en akademies kan groei om hulle vir die lewe na studentwees voor te berei.

Dit is egter so dat baie ouers en studente vandag finansieel swaarkry en AfriForum wil deur hierdie inisiatief bewustheid skep en die finansiële druk op van die De Goede Hoop-studente minder maak.

“Ons kom nie almal uit volmaakte huise nie. Hier is baie kinders by ons koshuis wat daagliks hul eie berge klim. So vir my gaan hierdie reis nie net daaroor om hierdie berg fisies te gaan klim nie, maar om vir hierdie kinders wat ek weet swaarkry ook hulle eie berge simbolies te gaan klim,” meen Kelder, wat saam met sy vrou, Elsabé, sedert 2018 koshuisouers by De Goede Hoop is.

Hoewel hy soms bietjie vlinders in sy maag kry, sê Kelder dat hy vreeslik uitsien na die avontuur. “Ek glo met my hele hart en siel in dit wat ons by De Goede Hoop doen. Daarom gaan ek die uitdaging voluit aanpak. Ek het verlede jaar my dieet verander en begin oefen en het tot dusver 11 kg verloor.

“Om Kilimanjaro uit te klim, is nooit iets wat ek gedink het ek sal doen nie, veral nie in die stadium van my lewe nie. Maar ’n mens is nooit te oud om te leer of jouself uit te daag nie,” sê Kelder.

Chameleon sê dat alle De Goede Hoop-studente, ongeag hul verskeie uitdagings, reeds trots kan wees op die berge wat hulle versit het. “Jy as student het gekom waar jy is omdat jy reeds bo verskeie moeilike omstandighede uitgestyg het en dit is klaar iets om te bewonder.”

Chameleon vertel dat hy as kind self swaargekry het,  maar dat hy, te danke aan mense soos sy ma, geleer het om altyd vorentoe te kyk. Hy sê hy hoop dat hierdie staptog as gebaar en inspirasie vir studente sal dien om dieselfde uitkyk te hê. “Ons leef in ’n tyd waar baie mense ’n soort  slagoffermentaliteit het, maar ons moet klem lê op dit wat ons kan doen eerder as dit wat ons nie kan doen nie.”

Volgens le Roux het die staptog vir hom ’n diep betekenis en hy hoop dat soveel studente moontlik deur die projek gehelp sal word. “Hoewel ek senuweeagtig oor die uitdaging is, sien ek daarna uit om die natuurskoon te beleef en studente te wys dat hulle enige berg kan versit, ongeag hul omstandighede.”

As jy tot die koshuis of inisiatief wil bydrae besoek https://www.givengain.com/cc/helpjankan/donate/#start

Soortgelyke plasings