| |

AfriForum en Basotho’s voer gesprek oor verhoudings

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 17 Januarie 2020 met die Basotho Lead-Petitioners (BLP) in Hlotse, Lesotho vergader oor die herstel van vriendskaplike verhoudings tussen Afrikaners en die Basotho’s. Tydens die vergadering is besluit dat ’n memorandum van verstandhouding opgestel sal word om ’n raamwerk vir erkenning en toekomstige samewerking daar te stel.

“Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie nodig is om van voor af te begin nie, ons moet bloot die vriendskaplike verhoudings wat in die verlede bestaan het, laat herleef. Die Basotho’s het tydens die Anglo-Boereoorlog huisvesting gebied aan Afrikaners wat na Lesotho gevlug het,” sê Mpho Serobanyane, nasionale koördineerder van die BLP.

“Dit is nie nodig om ’n nuwe vriendskap tussen die Basotho’s en die Afrikaners te begin nie. Die groot koning Moshoeshoe I het Afrikaners aanvaar en soos sy eie seuns behandel,” sê morena Fetohang Letsoela, ’n geskiedkundige en afstammeling van een van die militêre leiers van koning Moshoeshoe I.

“AfriForum se standpunt is dat gemeenskappe kan kies om saam te werk rondom sake waaroor daar saamgestem word. Dit is ’n keuse om nie vas te haak by verskille nie. Wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe is noodsaaklik vir vreedsame naasbestaan binne Suidelike Afrika,” sê Barend Uys, woordvoerder vir interkulturele samewerking by AfriForum.

Hoewel daar in die tydperk van 1858–1868 gespanne verhoudings tussen die Basotho’s en die Afrikaners van die Vrystaat bestaan het, het verhoudings oor tyd verbeter en het Afrikaners in die Vrystaat hulp aan vlugtelinge gebied wat weens die Basotho-burgeroorlog (van 1880–1881) na die gebied van die Vrystaat gevlug het.

“Ek is oorbluf deur hierdie inisiatief van AfriForum en die BLP,” sê morena Khetisa Tau.

Soortgelyke plasings