AfriForum en Agritrans lewer voorraad in Knysna af


AfriForum en Agritrans het vandag ’n groot hoeveelheid skenkings by Laerskool Knysna afgelewer met die doel om verligting aan inwoners wat deur die brande in en om Knysna geraak is te bring. Die skenkings is deur AfriForum-lede en Agritrans gemaak.
Chris Chameleon en Daniella Deysel het ook die geleentheid bygewoon en gehelp om voorraad van die trokke af te laai en aan enkele gesinne en individue uit te deel.
Die res van die voorraad is aan Solidariteit Helpende Hand oorhandig wat dit na afloop van ’n assesseringsproses verder sal versprei soos nodig.

“AfriForum het die skenkings aan Solidariteit Helpende Hand oorhandig wat danksy sy gevestigde netwerk sal verseker dat dié goedere hul pad na mense vind wat dit nodig het. Sommige mense wat deur die brande geraak is, het reeds vandag die eerste skenkings ontvang wat deur Agritrans se vragmotor in Knysna afgelewer is,” sê Guido Urlings, veldtogbeampte vir AfriForum.
“Benewens toiletbenodigdhede en ander noodsaaklikhede wat AfriForum aan mense geskenk het wat hul huise verloor het, het die organisasie ook ’n bietjie verligting gebring deur bale voer aan boere wat sonder weiding gelaat is, te skenk,” voeg Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, by.

Soortgelyke plasings