|

AfriForum en AfriSake betreur Eskom-hofuitspraak

AfriForum en AfriSake is teleurgesteld nadat regter Hans Fabricius vandag in die Pretoriase hooggeregshof in die guns van Eskom beslis het dat dié elektrisiteitsvoorsiener mag voortgaan om die elektrisiteit na sewe munisipaliteite in die Vrystaat, die Noord-Kaap en Noordwes vandeesmaand af te sny.

Die organisasies wou ’n dringende tussentydse bevel bekom om Eskom te keer om die elektrisiteit na die munisipaliteite van Moqhaka, Mailonyana, Nketoana, Mantsopa, Tokologo, Nala en Dihlabeng af te sny. Die aansoek is met koste van die hand gewys.

AfriForum en AfriSake is van mening dat Eskom ongrondwetlik optree deur sy praktyk om inwoners te wil benadeel weens die versuim van swak bestuurde munisipaliteite om hul verpligtinge na te kom. Die organisasies se hoofaansoek in dié verband sal in Maart aangehoor word.

Die organisasies meen Eskom het ander regsmiddele tot sy beskikking om sy tariewe in te vorder in plaas daarvan om inwoners, waarvan baie wel betaal, te straf. “Om betalende en wetsgehoorsame inwoners en instansies te straf vir die nalatigheid van onbekwame munisipale administrasies maak nie sin nie. Die benadering van Eskom om te dreig met summiere kragafsluitings van volledige munisipale gebiede is ’n drakoniese en ongrondwetlike maatreël wat neerkom op kollektiewe benadeling van betalers, sowel as wanbetalers,” meen Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum en AfriSake.

Eskom het verlede maand in ’n kennisgewing aangedui dat munisipaliteite ter sprake se krag op sekere ure van die dag afgesny gaan word en op grond daarvan is ’n dringende aansoek gebring.

Fabricius het onder meer die dringendheid van die organisasies se aansoek bevraagteken. Hy het onder meer beklemtoon dat daar na die breër konteks gekyk moet word waarbinne Eskom krag aan sekere munisipaliteite afsny om sy skuld in te vorder. As ’n ekonomiese noodsaaklikheid móét Eskom die skuld van munisipaliteite invorder.

Hy het gesê dit is ’n feit dat Eskom sedert 2011 probeer om miljarde rande wat munisipaliteite aan hom skuld, in te vorder. Volgens Fabricius moet belastingbetalers wat ontevrede is met hul munisipaliteite, hoewel hulle dié munisipaliteite vir hul dienste betaal, hulle in ’n demokratiese verkiesing uitstem.

Hy meen Eskom is geregtig om volgens wet en ooreenkomste met munisipaliteite die krag af te sny as hulle nie hul skuld betaal nie.

Hy het voorts gesê daar sal in die hoofaansoek besluit moet word of AfriForum en AfriSake die nodige regsbevoegdheid het om die aansoek te kan bring en of Eskom die mag het om krag af te sny.

Marcus Pawson, hoof van plaaslike regering en omgewingsake by AfriForum, het gesê in die lig van die jongste uitspraak sal beide organisasies moet heroorweeg of daar met die hoofaansoek voortgegaan moet word.

Die organisasies is steeds van mening dat Eskom verkeerd optree deur voort te gaan om die betrokke munisipaliteite se krag af te sny. Die organisasies het onder meer daarop gewys dat betalende verbruikers en instansies soos ouetehuise, skole, hospitale en nooddienste in die proses benadeel word weens ’n kultuur van wanbetaling onder seker inwoners en die wanbestuur van munisipaliteite.

 

 

Soortgelyke plasings