|

AfriForum eis Nkosazana Dlamini-Zuma se bedanking

Die burgerregte-organisasie AfriForum eis dat Nkosazana Dlamini-Zuma, die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, uit haar pos bedank. Dít volg nadat die minister en haar departement in die afgelope paar weke keer op keer in die howe in die verleentheid gestel is oor die irrasionele en onregverdigbare manier waarop die staat van inperking hanteer word.

Die Noord-Gautengse Hoë Hof het hierdie week onder meer beslis dat die regering se regulasies met betrekking tot die staat van inperking paternalisties, irrasioneel en grondwetlik onregverdigbaar is. Verskeie ander uitsprake is ook al teen Dlamini-Zuma en haar departement gelewer. Verder het die irrasionele aard van die regulasies wat onder Dlamini-Zuma se toesig uitgevaardig is ook ’n groot legitimiteitskrisis vir die regering geskep en word daar binne en buite Suid-Afrika die spot gedryf met die manier waarop die Suid-Afrikaanse regering die staat van inperking reguleer.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat Dlamini-Zuma nie die enigste skuldige in die regering is nie, maar dat die regulasies wat deur haar departement uitgevaardig is in besonder roekeloos is.

“Die minister se traak-my-nieagtige houding teenoor die gevolge van die regulasies en die besware dat dit irrasioneel is, is deel van die probleem.”

Roets verwys voorts na die bewerings oor Dlamini-Zuma se verbintenisse met die onderwêreld waar tabak op onwettige wyses gesmokkel word, asook die feit dat verskeie gerespekteerde wetenskaplikes die regulasies as onsinnig en onwetenskaplik beskryf het. Eerder as om na die nodige kundiges te luister, steur die regering hulle eenvoudig nie daaraan nie en word daar bloot voortgegaan met verdere irrasionele regulasies.

Roets verwys ook na die navorsing deur van die land se mees gerespekteerde ekonome dat die staat van inperking tot meer lewensverliese as gevolg van armoede en wanvoeding gaan lei as die aantal lewens wat in die proses gespaar sal word.

“Dit blyk dat die regering – en Dlamini-Zuma in besonder – hulle eenvoudig nie aan wetenskaplikes se advies steur nie en voortploeter met irrasionele en inkonsekwente optrede, ten koste van die samelewing in geheel,” sê Roets.

Soortgelyke plasings