AfriForum eis met regsmening dat konsepregulasies oor toelating van Gauteng-leerders geskrap word


Burgerregte-organisasie AfriForum het vandag kommentaar ingedien op die konsepregulasies oor die toelating van leerders, wat deur die LUR vir Onderwys in Gauteng op 30 Julie 2018 in ’n buitengewone uitgawe van die Provinsiale Koerant gepubliseer is.
AfriForum se voorlegging bestaan uit ’n regsmening wat deur ’n advokaat namens AfriForum opgestel is, asook kommentaar deur individuele lede wat ouers in Gauteng is en AfriForum gevra het om hulle kommer en kommentaar namens hulle aan die departement oor te dra.
Verteenwoordigers van AfriForum het verskeie van die inligtingsessies wat deur die LUR, Panyaza Lesufi, in Augustus 2018 oor die konsepregulasies aangebied is, bygewoon. Die toon van die sessies en dreigemente wat deur die LUR uitgespreek is, skep wat AfriForum aanbetref, ernstige kommer oor die proses.
In AfriForum se voorlegging word die departement weereens verseker dat AfriForum toegewyd bly daaraan om aan ’n proses mee te werk wat resultate sal bied wat in die beste belang van alle leerders in Gauteng sal wees, en die aanbied van uitnemende onderwys aan almal sal verseker, in ooreenstemming met die gees van die Grondwet.
AfriForum se besware teen die konsepregulasies sluit die volgende aspekte in, wat in meer besonderhede in die regsmening uiteengesit word:

  • die vaagheid van verskeie regulasies en van sekere terme wat daarin gebruik word;
  • die gebrek aan oorweging vir die hantering van sibbe, wat ’n moontlike skending van artikel 28(2) van die Grondwet wat oor die beste belange van kinders handel, mag behels;
  • die afskaffing van voeder laerskole;
  • die gebrek aan konsultasiegeleenthede met belanghebbendes oor voedingsones – ’n moontlike poging om ’n uitspraak van die Konstitusionele Hof in dié verband te omseil;
  • die afwatering van die rol van skoolbeheerliggame, wat onredelik en onregverdig bevind mag word (veral gesien in die lig van die LUR se uitlatings);
  • die uitsluiting van skoolbeheerliggame uit die proses waarmee skole se kapasiteit bepaal word – selfs al is dié liggame se primêre verantwoordelikheid om gehalte onderrig vir leerders te verseker en die bewese feit dat kapasiteit en klasgrootte ’n sleutelrol in dié verband speel;
  • vrae oor die deursigtigheid en onafhanklikheid van die aanlyn aansoekproses, wat, indien die regulasies in hulle huidige formaat aanvaar word, die enigste manier sal wees waarop aansoeke ingedien sal kan word;
  • moontlik botsings met nasionale beleide; en
  • die feit dat die konsepregulasies die positiewe model van samewerking tussen die departement, skole en ouerbeheerliggame vervang met ’n proses wat deur die departement oorheers word.

Met die bogenoemde kwessies in gedagte, eis AfriForum dat die konsepregulasies geskrap word.

Soortgelyke plasings