|

AfriForum eis Lesufi se afdanking – omvattende veldtog volg

Die burgerregteorganisasie AfriForum kondig op 20 November 2019 ’n omvattende veldtog aan om die afdanking van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, van die premier, David Makhura, te eis. Dít volg nadat AfriForum oorstroom is met versoeke van ouers wat genoeg van die LUR se kleitrappery met die huidige plasingsproses gehad het, en ook oor vele ander kwessies keelvol vir sy wangedrag is.

Volgens ’n verklaring wat die Gautengse onderwysdepartement vandag rakende die steeds onopgeloste skoleplasingsprobleem in Gauteng uitgereik het, het Lesufi aangekondig dat hoëvolume skole plek sal maak vir leerders deur mobiele klaskamers aan te skaf en dat leë townshipskole volgemaak sal word deur Afrikaans as onderrigtaal by te voeg. Hierdie aankondiging bied nie sinvolle, volhoubare oplossings vir die probleem nie en daarmee aanvaar hy ook nie aanspreeklikheid vir die mislukking van die aanlyn stelsel nie.

“Die LUR meen dat skole moet saamsmelt om vol Engelse skole te skep. Die saak is egter nie so eenvoudig nie en gaan ook nie betyds die probleem van te min skole in Gauteng oplos nie,” sê Carien Bloem, bestuurder vir onderwys by AfriForum.

“Die aanlyn aansoekstelsel en skoleplasings is een van die vernaamste probleme wat in AfriForum se veldtog onder die loep geneem sal word, maar is hoegenaamd nie die enigste kwessie nie,” voeg Bloem by.

Verdere klagtes sluit in:

  • Lesufi se weiering om op te tree teen die voortdurende inmenging van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) by openbare skole;
  • sy herhaalde minagtende uitsprake oor Afrikaans en Afrikaans as onderrigtaal;
  • sy rassistiese uitsprake wat gemeenskappe in die land polariseer; asook
  • beweerde wanbesteding en korrupsie wat plaasvind in die onderwysdepartement.

Verskeie van AfriForum se afdelings staan gereed om regsaksies teen Lesufi te loods. Verder skep die organisasie ook vir die publiek, veral die ouers van leerders wat deur die plasingsproses geraak word, die geleentheid om aan die veldtog wat sy afdanking eis, deel te neem.

“Dit is ’n skande dat die premier toelaat dat Lesufi steeds sy amp beklee, ten spyte van die skade wat hy die Gautengse onderwysstelsel reeds aangedoen het. Daar word gereeld vanuit owerheidsgeledere verklaar dat hy vir puik matriekuitslae sorg. Die waarheid is egter dat dit die gevolg van die toewyding van uitnemende onderwyspersoneel, leerders en ouers in die provinsie is wat ten spyte van sy ideologiese inmenging presteer. Gautengse skole, ouers en leerders verdien beter,” sê Bloem.

Soortgelyke plasings