|

AfriForum eis geregtelike ondersoek ná dood van Senzo Meyiwa

AfriForum het vandag aangekondig dat adv. Gerrie Nel, hoof van dié burgerregteorganisasie se privaatvervolgingseenheid, namens die Meyiwa-familie geëis het dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ’n formele geregtelike ondersoek na die dood van Senzo Meyiwa aanbeveel.

AfriForum en die Meyiwa-familie het verlede maand aangekondig dat die burgerregteorganisasie die Meyiwa-familie gaan verteenwoordig. Adv. Nel is aangestel as die Meyiwa-familie se advokaat in die ondersoek na die dood van dié voormalige Bafana Bafana-kaptein.

“Die formele geregtelike doodsondersoek sal aan adv. Nel en belanghebbende partye die geleentheid gee om die getuienis te toets en getuies onder kruisverhoor te neem. Dit sal die landdros help om te bevind wie vir Meyiwa se dood verantwoordelik was. Unieke sake verg unieke oplossings en AfriForum hoop dat hierdie ondersoek uiteindelik tot vordering in die saak sal lei. Dit is in almal se belang dat die land se strafregstelsel na behore funksioneer,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“Ons glo dat die geregtelike doodsondersoek sal verseker dat geregtigheid geskied sodat Senzo se moordenaars uiteindelik tot verantwoording gebring kan word. Die Meyiwa-familie is trots om met AfriForum verbind te word en ons is bly dat die organisasie die nodige stappe doen om uiteindelik vordering in die saak te bewerkstellig. Ons doen weer eens ’n beroep op Suid-Afrikaners om saam met ons te staan om ongeregtigheid te beveg,” sê Sifiso Meyiwa, Senzo se broer.

AfriForum en die Meyiwa-familie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die saak om ’n e-pos na onsvervolg@afriforum.co.za te stuur.

Adv. Nel het tydens die mediakonferensie ook terugvoer gegee oor nuwe verwikkelinge in die sake teen Nomgcobo Jiba en Julius Malema.

Jiba
AfriForum het reeds in 2017 aangekondig dat die organisasie namens genl. Johan Booysen privaat vervolging teen Jiba wil instel. Die NVG het verskeie ongegronde verskonings aangebied waarom die hof se beslissing – dat die saak weer op die rol geplaas moes word –  nie in werking gestel is nie.

AfriForum het op 5 Desember 2019 ’n brief aan die NVG gestuur waarin die organisasie eis dat daar binne 14 dae ’n besluit oor die vervolging van Jiba geneem moet word. Indien die NVG nie ’n besluit neem nie, sal die organisasie ’n mandamus-aansoek indien om die NVG te dwing om ’n nolle prosequi-sertifikaat uit te reik. AfriForum was reeds suksesvol met ’n soortgelyke aansoek toe die NVG ter elfder uur ’n beslissing in die On-Point-saak teen Malema gemaak het.

Volgens AfriForum bestaan daar geen rede waarom die NVG nie nou ’n finale besluit oor die uitreiking van ’n nolle prosequi-sertifikaat kan neem nie. “Ons is gereed om te vervolg sodra die sertifikaat uitgereik word,” sê Nel.

Malema: On-Point Engineering
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ook aangekondig dat die organisasie privaat vervolging sal oorweeg indien die NVG weier om Malema op aanklagte van bedrog, korrupsie of geldwassery te vervolg.

Die NVG het op 19 November 2019 by monde van adv. George Baloyi, waarnemende direkteur van openbare vervolging in Pretoria, aangekondig dat hulle Malema nie gaan vervolg vir die beweerde korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery wat met die On-Point-skandaal verband hou nie. Adv. Baloyi het aangedui dat hulle ná die aanvanklike verhoor ’n besluit oor Malema se vervolging sal neem. Dié besluit is geneem nadat AfriForum aangekondig het dat sy eenheid ’n mandamus-aansoek op die NVG en die minister van justisie beteken het om die NVG deur die hof te dwing om ’n besluit oor die vervolging van Malema te neem.

AfriForum het in ’n skrywe breedvoerig aangedui waarom die besluit om Malema nie te vervolg nie irrasioneel en strydig met die getuienis is. Die NVG word versoek om die irrasionele besluit in heroorweging te neem.

“Die privaatvervolgingseenheid is juis gestig om toe te sien dat die beginsel van gelykheid voor die reg gehandhaaf word en dat daar geen selektiewe vervolgings is nie. Die huidige besluit herinner aan die besluit om nie voormalige pres. Jacob Zuma saam met Schabir Shaik aan te kla nie – wat katastrofiese gevolge gehad het,” sê Kriel.

Soortgelyke plasings