|

AfriForum eis duidelikheid rondom vuurwapenamnestie

AfriForum het op 12 Desember 2019 ’n skrywe aan Bheki Cele, minister van polisie, en Khehla Sithole, nasionale polisiekommissaris, gerig en vrae gestel rondom die ingestelde vuurwapenamnestie.

Dié amnestie is op 27 November 2019 in die Staatskoerant aangekondig en behels onder meer dat mense wat ’n onwettige vuurwapen besit dié vuurwapen by enige polisiekantoor in Suid-Afrika kan inhandig sonder om daarvoor vervolg te word. Die amnestieperiode strek vanaf 1 Desember 2019 tot 31 Mei 2020.

AfriForum eis onder meer antwoorde oor die veilige bewaring van die vuurwapens terwyl dit in die SAPD se besit is, of daar voldoende en bekwame kapasiteit bestaan om die proses deur te voer, asook antwoorde oor algemene aspekte van die proses.

Hierdie amnestie, wat sonder ’n daadwerklike konsulteringsproses voorafgegaan is, laat ’n bitter smaak in vuurwapeneienaars se monde wat nie hul vuurwapenlisensies betyds hernu het nie. Ondanks ’n tussentydse hofbevel wat bevestig dat vuurwapeneienaars met vervalde lisensies steeds in wettige besit van hul vuurwapens is, het die howe nog nie finale duidelikheid gegee nie. Baie beskou dié amnestieproses as ’n voortydige wyse om landsburgers te ontwapen en bloot te stel teen die klaarblyklike onstuitbare misdaadvlaag wat die land teister.

“Landsburgers het toenemend begin om paraat op te tree weens die SAPD se gebrek aan vermoëns om misdaad suksesvol te bestry. Hulle het hulself ook in veiligheidstrukture georganiseer en gebeurlikheidsplanne in werking gestel om hul gesinne en hulself te beskerm. Die doeltreffende, wettige en verantwoordelike aanwending van ’n vuurwapen is van kardinale belang by gemeenskappe om hulself te verdedig. Cele se optrede om die amnestieroete op dié manier te volg dui op ’n politieke agenda en fokus op areas wat nie die stryd teen misdaad bevorder nie,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

AfriForum sal, afhangende van Cele en Sithole se antwoorde, alle verdere opsies oorweeg om seker te maak dat die amnestieproses nie onnodig afbreek doen aan die veiligheid van gemeenskappe nie.

Soortgelyke plasings