AfriForum eis dringende vergadering met Gamagara Plaaslike Munisipaliteit


Die burgerregte-organisasie AfriForum eis ’n dringende vergadering met die Gamagara Plaaslike Munisipaliteit ná verskeie klagtes oor die voortslepende waterprobleme in Kathu en Olifantshoek.
AfriForum het in November 2018 reeds ’n navraag oor die watertekort in Olifantshoek gerig. Daar is op verskeie geleenthede gekorrespondeer en die eerste terugvoer van die munisipale bestuurder is eers op 24 Januarie 2019 ontvang. AfriForum het ’n brief oor beweerde wanbetalings via sy regsverteenwoordiger Hurter Spies Ingelyf aan die munisipaliteit gerig. Die munisipale bestuurder het die aantygings ontken en Sedibeng Water beskuldig. Sedibeng Water het die bewering egter ook ontken. AfriForum het daarna die departement vir samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA), die premier en die menseregtekommissie gekontak. CoGTA het onderneem om ook ʼn afspraak met die munisipale bestuurder te reël.

“Nóg Sedibeng Water, nóg die munisipale bestuurder het al hierop geantwoord. Die gemeenskap het uit desperaatheid naderhand ’n optog gehou. ’n Ondersoekbeampte van die Menseregtekommissie het Olifantshoek op Donderdag 7 Februarie besoek,” sê Gonda Louw, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
“Ons gaan aanhou om die situasie te moniteer tot ons voldoende antwoorde ontvang. Ons kan nie toelaat dat die gemeenskap onder politieke speletjies en onbeholpenheid ly nie,” sluit Louw af.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Olifantshoek” na 32532 (R1).
 

Soortgelyke plasings