|

AfriForum eis dissiplinêre stappe teen burgemeester ná rassistiese uitlatings

AfriForum het vandag in briewe aan die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, die premier van die Vrystaat, asook die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (SALGA) geëis dat dissiplinêre stappe teen Nkosinjani Speelman, uitvoerende burgemeester van die Matjhabeng-munisipaliteit in Welkom, gedoen word nadat hy beledigende rassistiese uitlatings teenoor ’n sekere etniese groep in die gebied gemaak het. Die burgerregteorganisasie het ook ’n klag van haatspraak teen hom by die Menseregtekommissie (MRK) aanhangig gemaak.

In ’n video-opname van Speelman, waar hy lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) toespreek, verwys hy na inwoners van Bronville (’n bruin gemeenskap buite Welkom) as “Boesmans”. Hy het ook die volgende gesê: “In Bronville, jy weet mos party van die ‘Boesmans’, they take some chances; don’t hesitate. I talked to them yesterday, but when you close them (down), they get out and drink again.”

Speelman sê ook in die video dat lede van die SANW na Bronville moet gaan en wys dat hulle soldate is. Hy het ook bygevoeg die soldate moet “skop and donner” indien nodig en hy sal hulle ondersteun.

Hierdie uitsprake van die burgemeester hits geweld aan teen ’n sekere gemeenskap op grond van hul ras en kom dus op haatspraak neer.

Volgens Natasha Venter, senior veldtogbeampte by AfriForum, is dit gewetenloos vir mense in magsposisies om stellings soos hierdie te maak in die krisistyd wat ons tans beleef. “Mense is reeds onseker van hul regte en die beperkings daarop tydens die staat van inperking. Stellings soos dié wat gemaak word deur persone in magsposisies vererger verwarring en wakker vrees aan. Speelman se uitlatings is verder bedenklik inaggenome pres. Cyril Ramaphosa se benadrukking dat die SANW nié geweld tydens die staat van inperking moet gebruik nie aangesien hulle nie in ’n oorlogsone ontplooi word nie. Indien die regering in hierdie tyd sy mag misbruik en sekere gemeenskappe teiken, sal AfriForum ingryp,” sê Venter.

Soortgelyke plasings