AfriForum eis dat Mbalula rassistiese woordvoerder afdank


Die burgerregte-organisasie AfriForum het ’n brief gerig aan Fikile Mbalula, minister van sport en ontspanning, waarin die onmiddellike ontslag van Esethu Hasane, media-en-kommunikasiebestuurder by die departement van sport en ontspanning, geëis word. Dit volg ná ’n rassistiese opmerking wat Hasane op sowel sy Facebook- as sy Twitter-rekening geplaas het:

Only Western Cape still has dry dams. Please God, we have black people there, choose another way of punishing white people.

(Dis slegs die Wes-Kaap wat nog droë damme het. Asseblief, Here, ons het swart mense daar, kies ’n ander wyse om wit mense te straf.)

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat Hasane se opmerking weer eens bevestig dat anti-wit rassisme by die departement van sport en ontspanning aan die orde van die dag is. “Hasane se opmerking kom nie juis as ’n verrassing nie, want dit is reeds duidelik dat Mbalula se druk op sportliggame om streng kwotas te implementeer nie ’n opregte poging is om atlete uit elke gemeenskap te ontwikkel nie, maar om die aantal wit sportmanne en -vroue in spanne te verminder. Mbalula poog om sy departement en die regering se mislukking om sport in townships en landelike skole te ontwikkel, weg te steek deur wit mense te teiken,” voeg Kriel by.

Volgens Kriel eis AfriForum voorts dat Mbalula en sy departement Hasane se opmerking in die openbaar moet veroordeel en hulself sonder verwyl van hom distansieer.

“Net gister het Mbalula (met reg) sy afkeer op sy Twitter-rekening uitgespreek – met skermgrepe – teen ’n eiendomsagent wat ’n meenthuis as ‘SLEGS wit mense, asseblief’ adverteer. Ons kan nie wag om te sien of Hasane se opmerking ook sy onmiddellike aandag sal geniet nie,” sê Kriel.

Soortgelyke plasings