|

AfriForum eis dat diskriminasie teen toerisme-ondernemings geskrap word

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag in ’n aanmaningsbrief aan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, daarop aangedring dat die voorgestelde bepalings gebaseer op ras, ouderdom, gestremdhede en geslag vir verligting vir ondernemings in die toerismebedryf geskrap word.

Dít volg op Kubayi-Ngubane se aankondiging gister tydens ’n mediakonferensie dat aansoeke om finansiële hulp tydens die COVID-19-pandemie in die toerismesektor op ’n swartbemagtigingsgrondslag gedoen sal word.

Die departement het verder leweringsmeganismes vir die verspreiding van verligting gepubliseer. Dit sluit die volgende in:

  • 70% van die ondernemings moet in swart besit wees;
  • 50% van die ondernemings moet deur vrouens besit word;
  • 30% van die ondernemings moet deur jeug besit word; en
  • 4% van die ondernemings moet deur persone met gestremdhede besit word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, behoort dit nie saak te maak wie die eienaars van ’n onderneming is wanneer bepaal word watter ondernemings hulp nodig het nie.

“Al die ondernemings wat deur hierdie pandemie geraak word, dra by tot die ekonomie en skep direk of indirek werk in ’n land waar dit broodnodig is. Nood diskrimineer nie, en die regering behoort ook nie.”

AfriForum het ook in sy brief ’n skriftelike onderneming van die minister en die departement geëis dat hierdie bepalings geskrap sal word. Indien die departement nie aan hierdie versoek gehoor gee nie, is AfriForum van voorneme om met ’n dringende aansoek teen die minister en die departement voort te gaan.

“In hierdie krisistyd behoort almal saam te staan teen ons gemeenskaplike vyand, COVID-19. Dit is daarom tragies en immoreel dat die regering binne hierdie konteks steeds voortgaan om ’n rasgedrewe agenda te bevorder. Benewens die praktiese bystand wat AfriForum se gemeenskapstrukture tans lewer, word ons nou deur die regering se rasbeheptheid gedwing om toenemend in hierdie tyd ons rol as burgerregtewaghond te vervul, deur in die belang van ons lede op te tree en ook te verseker dat almal in die land se regte beskerm word. Die stryd vir billikheid word ook bemoeilik deur diegene wat kommer oor die regering se rassemaatreëls valslik as fopnuus probeer afmaak,” sê Kriel.

Klik hier vir die brief aan die minister.

Soortgelyke plasings