AfriForum eis besonderhede oor ANC se beplande Rwandese besoek

Die burgerregtewaghond AfriForum het vandag in ’n brief aan Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, versoek dat sy meer besonderhede verskaf oor ’n ANC-afvaardiging se beplande besoek aan Rwanda. Luidens mediaberigte word hierdie besoek beplan om te bepaal hoe dié land sy parke en stede skoonhou – dít terwyl inwoners van Bloemfontein die metro moet smeek om vullis te verwyder.

Mlamleli sal volgens David Pongolo, burgemeesterskomiteelid vir omgewingsake, die afvaardiging lei, wat deel is van ’n provinsiale werkkomiteeprojek van die ANC. Volgens Pongolo gaan die afvaardiging kyk hoe stede, dorpe en parke in Rwanda skoongemaak word. Die burgemeesterskantoor kan ook nie bevestig wat die kostes vir hierdie besoek sal beloop nie.

Volgens Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, is dit verregaande dat die provinsiale werkkomitee só ’n besoek wil aflê sonder om enige behoorlike beplanning of koste-oorweging te doen. “Die burgemeester moet onthou dat sy met belastingbetalers se geld werk en vir alle uitgawes deur haar kantoor verantwoording moet doen. AfriForum eis in die brief aan Mlamleli dat die sy ’n behoorlike projek- en reisplan, asook ’n begroting, aan die burgerregteorganisasie moet verskaf.”

Die Rwandese model is redelik eenvoudig om te verstaan en vereis nie dat ’n hele afvaardiging die land besoek nie. Die Rwandese regering het ’n inisiatief van stapel gestuur waarvolgens alle landsburgers tussen 18 en 65 jaar op die laaste Saterdag van elke maand hul omgewing moet skoonmaak. Dit is nie ’n vrywillige projek nie en landsburgers wat nie aan die skoonmaakaksie deelneem nie, word swaar beboet. Die leiers van die land neem egter ook aan hierdie aksie deel om die burgery aan te moedig om deel te neem.

“As die burgemeester werklik die Rwandese model as bewonderenswaardig beskou, behoort sy eerder die voortou te neem deur te sorg dat die stad – wat sy veronderstel is om te bestuur – nie soos ’n ashoop lyk nie. Die geld wat aan die besoek bestee gaan word, kan veel eerder aangewend word om ’n daadwerklike verskil in die stad te bewerkstellig,” sluit Taute af.

Soortgelyke plasings