|

AfriForum eis antwoorde van departement oor Centurion-grondeis

AfriForum het met die proses vir ’n formele aansoek begin  om die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming te verplig om verdere en volledige besonderhede oor die grondeis in Centurion en omliggende gebiede bekend te maak.

Dít volg nadat dié departement versuim het om op verskeie vorige versoeke van AfriForum in die verband te reageer.

Die optrede volg ná ’n grondeis in Junie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer is wat ongeveer 4 000 ha se onroerende eiendom raak en nagenoeg 2 000 huisgesinne betrek. Die waarde van die eis is op sowat R4 miljard geraam.

Indien die departement steeds versuim en nie die versoekte inligting binne 90 dae beskikbaar stel nie, sal die hofaansoek beteken en geliasseer word en ’n datum op die hofrol verkry word.

AfriForum en die belangegroep Rethro benodig die uitstaande inligting om volledige voorleggings aan die owerhede te stuur ten einde die grondeis na behore teen te staan.

“Dit is ’n frustrasie vir die geaffekteerde gemeenskap dat die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming met die verskaffing van inligting, wat AfriForum vroeër vanjaar versoek het, sloer. Dit is tog in almal se belang dat hierdie aangeleentheid so spoedig moontlik afgehandel word,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

“Indien AfriForum en Rethro oor die volledige inligting beskik rakende die eisers se weergawe, kan daar voortgegaan word om sodanige weergawe te weerlê deur die aanbied van getuienis wat deur deskundige verslae onderskraag word,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

AfriForum het onlangs met ’n omvattende veldtog begin teen dié onwettige grondeis.

’n Massavergadering is gehou wat deur honderde beswaarde inwoners en AfriForum-lede bygewoon is en ’n memorandum is ook aan ’n verteenwoordiger van die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming oorhandig waarin die burgerregte-organisasie sy besware teen die massiewe residensiële grondeis in Centurion uiteensit.

Dié aksie het gepaard gegaan met kruiwaens vol grond en modelhuise daarop wat na die departement gestoot is om die boodskap duidelik oor te dra dat die burgerregtewaghond sowel onteiening sonder vergoeding as onwettige grondeise enduit sal teenstaan.

Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het kort ná die organisasie se ingryping aangekondig dat onroerende eiendom wat deur die Centurion-grondeis geraak word nie onteien sal word nie. Finansiële vergoeding vir die eiser(s) word wel steeds oorweeg. “AfriForum kan egter nie staatmaak op vae beloftes van ’n regering op wie se woord ’n mens nie kan reken nie. Ons veg voort om te verhoed dat belastingbetalers se geld nie vermors word en huiseienaars nie verontrief word deur die beperkings wat grondeise op hulle plaas nie,” sê Cameron.

Die meeste van die eisers was klein- en agterkleinkinders van oorledenes wat in 1968 in die gebiede gewerk het. Baie van hulle is ook intussen oorlede. Luidens die verslag wat by die grondeisekommissaris ingehandig is en op grond waarvan die eis gebring is, is daar geen bewyse van enige verblyfreg wat die eisers se voorgeslagte gehad het nie.

Die gebiede wat deur die eis geraak word is Rooihuiskraal, The Reeds, Kosmosdal, Heuweloord, Highveld, Zwartkop, Midstream, Doornkloof, Tweefontein, Brakfontein, Olievenhoutbosch, Louwlardia, Hoekplaats, Trigaardspoort, Celtisdal en die Danie Joubert-snelweg (N1).

Volgens Cameron rig eise soos dié enorme skade aan en beïnvloed dit eiendomswaarde negatief. “Die eis is wat ons betref ’n opportunistiese skuif.”

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, meen die verslag ter ondersteuning van die eis is swak, uiters vaag, onvolledig en bevat geen behoorlike navorsing nie. Hy meen eise soos dié kan ’n presedent skep en indien dit eenvoudig lukraak goedgekeur word, kan dit ’n enorme las op die staatskas plaas terwyl belastingbetalers reeds swaar trek.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die organisasie het tot dié saak toegetree omdat honderde eienaars se eiendom, waarvoor hulle hard gewerk het, deur ’n grondeis sonder meriete bedreig word. “Politici het onrealistiese verwagtinge oor grond by hul ondersteuners geskep. Ons gaan egter nie terugstaan en toekyk hoe wettige eienaars die prys hiervoor betaal nie.”

Soortgelyke plasings