|

AfriForum eis aksie teen onwettige herwinners by SuperSport-park

AfriForum het op Maandag 9 September 2019 ’n brief gerig aan Stevens Mokgalapa, burgemeester van die Tshwane-metro, oor die onwettige herwinners wat oorkant SuperSport-park in Centurion woon. AfriForum-lede gekla het oor die groot veiligheid- en ander bedreigings wat dié onwettige besetters vir die omliggende omgewing inhou.

Meer as 200 herwinners woon onwettig op hoewe 147 van plaas Lyttelton in wyk 65. Huisies en winkels is ook opgerig op die perseel, wat langs die Hennopsrivier onder die vloedlyn geleë is.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, het die onwettige herwinners ’n groot negatiewe uitwerking op die omgewing. “Die area het in ’n vullisterrein ontaard, met plastieksakke wat die hele wêreld vol waai en gebrand word. Mense wat op die perseel woon, gebruik die Hennopsrivier se water om te bad en hul klere te was. Die rivier is vol E. coli en hou verskeie gesondheidsrisiko’s in vir die mense wat op die perseel bly of stroomaf geleë is.

“Die veiligheid van die omliggende gemeenskappe word ook in gedrang geplaas en die perseel bied maklike skuilplek vir misdadigers. Gerugte doen ook die rondte dat dwelms op die perseel verkoop word en alkohol misbruik word. Inwoners kla verder dat hul asblikke, alarm-ogies, mangatdeksels en elektriese kabels in die omliggende omgewing gesteel word; dit kan daaraan toegeskryf word dat die Metro geen beheer oor die perseel uitoefen nie.”

AfriForum het in die skrywe onder meer die volgende geëis:

  • ’n Dringende vergadering met die burgemeester en betrokke rolspelers;
  • dat die herwinners na ’n geskikter area geskuif word; en
  • die onmiddellike ingryping deur die Metropolisie en SAPD om misdaad in die omgewing hok te slaan.

“Dit is die Metro se plig om te verseker dat daar na die regte van die gemeenskap – insluitend die mense wat op die perseel bly – omgesien word. Almal het die reg tot ’n gesonde, veilige omgewing. Dit wat hier gebeur, is egter nie die geval nie. Om in sulke haglike omstandighede te woon, is nie reg nie en die Metro sal moet toesien dat die mense na ’n meer geskikte omgewing geskuif word waar hulle met hul herwinning kan voortgaan. Die Metro moet ook toesien dat die herwinning op ’n wettige manier geskied sodat dit nie die omgewing nadelig beïnvloed nie,” voeg Grobbelaar by.

Sluit vandag nog by AfriForum aan: SMS jou naam na 45341 (R1) en help ons om ’n verskil te maak.

 

Soortgelyke plasings