| | |

AfriForum dring aan op bekendmaking van COVID-19-inligting

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n skrywe aan dr. Zweli Mkhize, Minister van Gesondheid, gerig om aan te dring op die bekendmaking van COVID-19-inligting, onder meer die protokol wat gevolg word om ’n sterfte as ’n COVID-19-sterfgeval te rapporteer. Dít volg omdat beperkte inligting oor die verloop van COVID-19 steeds bekend gemaak word, ten spyte van president Ramaphosa se onderneming van deursigtige optrede tydens sy toespraak op 13 Mei 2020.

Barend Uys, hoof van navorsing en ontwikkeling by AfriForum, sê dat basiese inligting oor die verloop van COVID-19 in die land steeds nie op ’n gereelde grondslag bekend gemaak word nie.

“Sonder inligting oor die getal gevalle en sterftes per ouderdomsgroep, kan die mees basiese aanwysers, soos byvoorbeeld die gevalsterftekoers, nie bereken word nie. Burgers kan nie die heersende omstandighede in die provinsie waar hulle woon beoordeel indien inligting oor die getal toetse wat gedoen is, nie beskikbaar gestel word nie.”

Daar heers ook onsekerheid oor die protokol wat gevolg word om ’n sterfte as ’n COVID-19-sterfgeval te rapporteer en daar is ook nie duidelikheid hoe opsporing en toetsing benader word nie. Daarom het AfriForum ook versoek dat die protokolle vir die rapportering van COVID-19-sterfgevalle, sowel as die benadering en uitvoering van opsporing en toetsing beskikbaar gestel word.

AfriForum het verder versoek dat die volgende inligting gereeld beskikbaar gestel en opgedateer word:

  • Die getal COVID-19-sterftes per ouderdomsgroep;
  • Die onderliggende siektetoestande van gerapporteerde COVID-19-sterfgevalle;
  • Die getal bevestigde COVID-19-gevalle per ouderdomsgroep;
  • Die getal asimptomatiese COVID-19-gevalle wat bevestig word;
  • Die getal simptomatiese COVID-19-gevalle wat bevestig word;
  • ’n Benaderde waarde van die reproduksiegetal.

AfriForum het ook versoek dat die volgende inligting per provinsie beskikbaar gestel word:

  • Die getal COVID-19-toetse;
  • Die getal gehospitaliseerde COVID-19 pasiënte;
  • Die getal COVID-19-pasiënte wat uit hospitale ontslaan word;
  • Die getal COVID-19-pasiënte in intensiewe- of hoë sorg;
  • Die getal COVID-19-pasiënte wat uit intensiewe- of hoë sorg ontslaan word.

“Ons is burgers, nie onderdane nie. Die inligting wat deur die Departement van Gesondheid ingesamel word, word namens die burgery gedoen en moet daarom op ’n deursigtige manier aan burgers beskikbaar gestel word. Dit is nie die departement se inligting wat hulle kan weerhou nie,” sluit Uys af.

Klik hier vir die brief.

Soortgelyke plasings