AfriForum dra by tot gelukkige einde ná Leandra taxi-kaping


In samewerking met die plaaslike AfriForum-buurtwag, het die Leandra SAPD op 26 Januarie 2017 ’n gekaapte vragmotor aan sy regmatige eienaar terugbesorg.
Dit volg nadat drie vermeende taxi-eienaars ’n Leandra-besigheidsman se vragmotor gekaap het en gedreig het om die drywer te vermoor en die voertuig af te brand. Die vragmotor is daarna na die Leandra taxi-parkeerterrein geneem waar die drywer en die voertuig gyselaar gehou is.
Hierdie insident volg te midde van bewerings dat die Leandra taxi-vereniging vragmotors teiken wat personeel in die Delmas- en Leandra-omgewing vervoer.
Die SAPD was traag om op te tree en het versoek dat ’n polisie-inspekteur vanaf Ermelo ingeroep moet word voordat die saak opgevolg kon word; hulle kon egter geen belofte maak oor wanneer die inspekteur sou arriveer nie. Danksy volgehoue druk vanaf die plaaslike AfriForum-buurtwag is die taxi-vereniging se perseel, in samewerking met die SAPD, binnegegaan en die vragmotor in beslag geneem en weer aan die eienaar terugbesorg.

“Ek wil ’n beroep doen op die gemeenskappe in Delmas en Leandra om bewus te raak van hierdie probleem en by hul plaaslike AfriForum-buurtwag aan te sluit om sodoende ons gemeenskapslede te beveilig en hul regte te beskerm,” maan Johann Weber, AfriForum Streekshoof.

Die SAPD het nog niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Gemeenskappe word gevra om AfriForum se petisie teen taxi-rampokkery te ondersteun deur “Taxi” na 45350 (R1) te SMS.

Soortgelyke plasings