Spyskaart +

AfriForum dien #WaterCrisis-petisie by parlement in

November 4, 2015 deur Esmarie Prinsloo

AfriForum het ’n petisie by die parlement ingedien as ’n desperate oproep tot aksie om die waterkrisis in Suid-Afrika op te los.

“Ons het ’n petisie by die parlement ingedien waarin ons me. Baleka Mbete, die Speaker van die Nasionale Vergadering, versoek om ’n ad hoc- parlementêre komitee aan te stel om die waterkrisis te ondersoek, asook die prestasie van die departement van water en sanitasie (DWS) en die bevoegdheid van die minister van water en sanitasie om as minister te dien van ’n departement wat die bewaarder van dié kritieke hulpbron is,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, gesê.

AfriForum het ’n kritiese feiteblad voorsien wat die organisasie se diepe bekommernis beklemtoon oor die hantering van die waterkrisis deur die DWS, sy minister en haar departement. Dit eis ook drastiese verandering en aksie. Klik hier vir die kritiese feiteblad.

“Ons is diep bekommerd oor die swak bestuur en handhawing deur die waterreguleerder, wat nou die hele land weens ’n tekort aan voorsiening en gehalte van waterhulpbronne aan risiko blootstel,” het Kleynhans bygevoeg.

Die hoofpunte wat in die temas van die feiteblad beklemtoon word, is soos volg:

  1. Suid-Afrika het nie die Millennium Ontwikkelingsdoelwitte se teikens vir watersanitasie bereik nie;
  2. Suid-Afrika is onvoorbereid op die nuwe Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte;
  3. Die DWS het enorme onderspandering op sy begroting gerapporteer;
  4. Die kommerwekkende verslag van die ouditeur-generaal;
  5. Bekommernisse oor die gehalte van drinkwater en die DWS se ondoeltreffendheid as die reguleerder van waterdienste;
  6. Groeiende onbetroubaarheid van watervoorsiening;
  7. Wydverspreide openbare ontevredenheid met waterdienste;
  8. Ontoereikende beplanning en droogte-aanpassingsplanne;
  9. Nasionale waterhulpbron-infrastruktuur benodig dringend ’n Nasionale Infrastruktuuragentskap;
  10. Beskerming van waterhulpbronne teen besoedeling en oorontrekking;
  11. Munisipale Afvalwaterbehandelingswerke in krisis;
  12. Ontoereikende vordering om wateraanvraag te beperk en waterverlies te verminder;
  13. Ernstige ekonomiese, gesondheids- en maatskaplike gevolge indien die waterkrisis nie erken word nie.

AfriForum het gemeld dat ’n onafhanklike waterreguleerder steeds ’n belangrike rol in Suid-Afrika kan speel of selfs moontlik die gesig van watergehalte en -voorsiening, asook die bestuur daarvan in die land kan verander.

“As ons ’n onafhanklike gesag gehad het wat nie deur politiek gemotiveer word nie, maar deur die handhawing van ons water- en dienstewetgewing, sou ons minder lekkasies, minder openbare klagtes en protes, skoner riviere en damme, gesonder gemeenskappe, ’n groeiende ekonomie en meer water gehad het,” het Kleynhans afgesluit.

SMS die naam van jou dorp na 45354 om deel te word van AfriForum se inisiatiewe om die volhoubare gebruik en beskerming van ons waterhulpbronne te verseker (R1/SMS).