|

AfriForum dien strafregtelike klagtes teen munisipale bestuurder in

AfriForum se Margate-tak het verlede week strafregtelike klagtes teen sowel die bestuurder van die Ugu Distriksmunisipaliteit as die bestuurder verantwoordelik vir die rioolaanleg in Harding ingedien. Dít volg nadat ernstige rioolstortings by die aanleg langs die Umzimkuluwanarivier plaasgevind het.

AfriForum het verskeie watertoetse saam met lede van die Harding-gemeenskap voor en ná die watersuiweringsaanleg uitgevoer. Die uitslae toon ’n duidelike onaanvaarbare hoë telling van E. coli direk ná die aanleg, wat daarop dui dat die aanleg nie na behore bestuur word nie.

Dit het daartoe gelei dat veevrektes voorgekom het nadat die vee rivierwater gedrink het. Bertie Strydom, ’n boer van die Harding-omgewing, het reeds ses beeste en ’n kalf verloor, terwyl ses van sy koeie ook geaborteer het. Veeartsverslae wys ook uit dat van die vrektes voorgekom het as gevolg van besmette drinkwater.

“Ons sien gereeld dat daar erge rioolstorting in ons gemeenskap plaasvind wat ’n uiters negatiewe uitwerking op ons gesondheid en ekonomie het,” sê Adolf Oosthuizen, voorsitter van AfriForum se Margate-tak.

“Munisipaliteite faal gemeenskappe in hul verantwoordelikhede met die bewaring van waterbronne. Ons hoop om binnekort nog verdere klagtes in KwaZulu-Natal in te dien waar rioolstorting plaasvind,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke en word deel van die verskil: SMS “Margate” na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings