AfriForum dien strafregtelike klagte oor bedrog teen vorige Tshwane Metro-bestuur in


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n strafregtelike klagte van bedrog teen die Tshwane Metroraad by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion ingedien.
Dit spruit onder meer uit verskeie ondersoeke wat AfriForum geloods het, asook dokumente wat aan dié organisasie oorhandig is. Die bedrog het glo in 2014/2015 plaasgevind toe dié munisipaliteit onder ANC-administrasie was.
Die klag sluit bewyse in dat bedrog van sowat R750 000 moontlik plaasgevind het, asook bewyse van die uitbetaling van onreëlmatige fakture.

“Ondersoeke wat deur AfriForum van stapel gestuur is, dui aan dat amptenare en sogenaamde kontrakteurs gekoöpteer is om kwotasies op te stel, goed te keur en uit te betaal sonder dat enige diens gelewer is. Dit wil ook voorkom of die bedrae op die kwotasies met opset nooit R30 000 per keer oorskry het nie, want dan sou formele tenderprosesse gevolg moes word,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se streekskoördineerder vir Gauteng-Noord.
“Ons hoop dat skuldige partye aan die pen sal ry en dat geregtigheid sal geskied. AfriForum sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat belastingbetalers se geld verantwoordelik en reëlmatig spandeer word, en dat moontlike strafregtelike aktiwiteite onder die loep geneem word. Die DA is nou in beheer van dié munisipaliteit en die organisasie vertrou dat daar vorentoe ’n goeie samewerkingsverhouding met dié bestuur sal wees,” sê Marcus Pawson, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.

Soortgelyke plasings