|

AfriForum dien strafregtelike klag in teen Gautengse departement van gesondheid

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ʼn strafregtelike klag by die Johannesburg Sentraal-polisiestasie ingedien om ondersoek in te stel na ʼn beweerde onregmatige tender van R24 miljoen wat deur die Gautengse departement van gesondheid toegeken is.

Dié tender om gespesialiseerde mediese toerusting aan die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria te verskaf, is glo toegeken sonder dat die korrekte tenderprosedures gevolg is.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregering, is daar slegs twee maatskappye wat dié toerusting in Suid-Afrika kan verskaf en beide het ʼn tender ingedien. Een vir R12 miljoen en een vir R24 miljoen.

ʼn Fluitjieblaser het egter dokumente aan die burgerregte-organisasie verskaf met bewyse dat die bod-evalueringskomitee die goedkoper tender onregmatig afgewys het, hoewel dit aan al die nodige vereistes voldoen het.

Boonop is daar ook skriftelike bewyse dat ʼn agent vooraf aangestel en betaal is om vergaderings tussen die duurder tenderaar en die departement te reël.

Omdat die maatskappy van die duurder tenderaar internasionale filiale het, gaan AfriForum ook klagtes indien by die departement van justisie in die VSA ingevolge die Foreign Corrupt Practices Act, asook by die Britse polisiediens Scottland Yard ingevolge die Bribery Act van 2010.

Die Foreign Corrupt Practices Act maak dit onwettig vir maatskappye wat ʼn verbintenis met die VSA het om buitelandse amptenare te beïnvloed met persoonlike betalings of belonings. William J. Jefferson, ʼn voormalige Amerikaanse politikus, dien tans tronkstraf van 13 jaar uit (die langste straf wat ooit aan ʼn kongreslid opgelê is vir omkopery) omdat hy dié wet oortree het deur regerings in Afrika om te koop vir sakedoeleindes.

Die Britse Bribery Act van 2010 word beskryf as een van die strengste anti-korrupsie wetgewing ter wêreld en individue wat dit oortree kan tot tien jaar tronkstraf opgelê word of onbeperkte boetes kry. Die wetgewing het byna ook universele jurisdiksie en maak voorsiening vir die vervolging van enige individue of maatskappye wat verbind word met die Verenigde Koningryk.

“AfriForum beskou enige vorm van bedrog sowel as die verkwisting van belastingbetalers se geld in ’n baie ernstige lig. Ons sal voortgaan om die nodige stappe te doen om te verseker dat geregtigheid geskied,” meen Mostert.

 

Soortgelyke plasings