AfriForum dien PAIA-aansoek in oor oprigting van Zuma-standbeeld in Noordwes


AfriForum het vandag ’n PAIA-aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wetno. 2 van 2000) aan die kantoor van Supra Mahumapelo, premier van die Noordwes, gestuur oor die oprigting van ’n standbeeld van pres. Jacob Zuma in Groot Marico.
In dié aansoek versoek die burgerregte-organisasie die volgende inligting: Die notules van vergaderings van die provinsiale wetgewer, kennisgewings in die media en alle relevante dokumentasie oor die begroting en die koste van dié projek.
Hendrik Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Noordwes, meen die oprigting van ’n Zuma-standbeeld is totaal onvanpas gegewe die hoë vlakke van korrupsie en armoede in die land.
’n Standbeeld van pres. Zuma kan nie opgerig word nie omdat hy onder andere:

  • 783 klagtes van bedrog teen hom het;
  • in ’n Nkandla-skandaal betrek is waar miljoene rand onregmatig aan sy huis bestee is; en
  • verantwoordelik is vir ’n enorme hoë werkloosheidsyfer wat tot haglike omstandighede en armoede bydra.

Oosthuizen sê verder dat die R6 miljoen wat die provinsie op hierdie ontoepaslike standbeeld wil spandeer veel beter aangewend kan word. Die geld kan byvoorbeeld gebruik word om:

  • meer as 100 000 sakke teer vir die herstel van slaggate aan te koop;
  • sowat 36 nuwe polisiebeamptes in Noordwes aan te stel om landelike veiligheid te bevorder waar onder meer plaasmoorde hoogty vier;
  • infrastruktuur op te gradeer en in stand te hou;
  • sowat 1 200 ongeskoolde werkers te betaal; of
  • ’n totaal van 31 nuwe hoërskoolonderwysers vir ’n jaar te betaal.

Soortgelyke plasings