AfriForum dien kommentaar in oor Nema-regulasies


Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 1 Julie 2019 kommentaar oor die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) by die departement van omgewingsake ingedien oor die voorgestelde regulasies wat in ’n kennisgewing in die Staatskoerant van 17 Mei 2019 gepubliseer is.

Dít volg nadat die departement openbare kommentaar vir regulasiewysigings oopgestel het.
AfriForum ondersteun die voorgestelde uiteengesette regulasies dat die persoon/maatskappy verantwoordelik is om te betaal vir die rehabilitasie en dies meer van die myn of gebied waarop hulle werk. AfriForum loof ook die minister van omgewingsake vir die insluit van maatreëls in dié voorgestelde regulasies wat sal vereis dat aansoekers en houers die inligting oor hierdie finansiële voorsiening beskikbaar en toeganklik vir die publiek maak. Dit sal die deursigtigheid van die skema as geheel verseker.
AfriForum is egter bekommerd dat die voorgestelde regulasies nie voldoende maatreëls bevat om te verseker dat die minister van minerale hulpbronne (of sy afgevaardigdes) dié finansiële voorsiening veilig en deursigtig bestuur nie.

“Die verandering en aanpassing van regulasies kan goed wees. Dit is egter baie belangrik dat organisasies en belanghebbendes aan die kommentaarproses deelneem sodat regulasies nie net vir politiese redes verander word nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se hoof van omgewingsake.

AfriForum het dus versoek dat die voorgestelde regulasies gewysig word voor finale publikasie om maatreëls in te sluit wat verseker dat verskafde fondse behoorlik en veilig bestuur word. Die omvang van die regulasies moet ook uitgebrei word om alle staatsliggame en staatsentiteite in te sluit.

“Alhoewel die algemene doel van dié regulasies goed is, moet ’n mens egter uitwys dat die departement van minerale hulpbronne reeds finansiële- en menslikehulpbronbeperkings in die gesig staar wat die doeltreffende implementering en afdwinging van die voorgestelde regulasies kan belemmer,” sê De Klerk.

Soortgelyke plasings