|

AfriForum dien klagtes teen spandabelrige burgemeester in

Terwyl haar munisipaliteit as een van die swakste in die land gebrandmerk word, het Andrina Matsemela, burgemeester van die Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit, dit verlede jaar goedgedink om ’n rojale R1,5 miljoen se munisipale fondse op ’n sogenaamde poeierverfpretloop vir haar verjaardag uit te gee.

AfriForum het vandag strafregtelike klagtes teen Matsemela én Charles Malema, hoof finansiële beampte van dié munisipaliteit, oor die beweerde wanbesteding by die Mokopane-polisiestasie in Potgietersrus ingedien.

Die burgerregte-organisasie eis dat die polisie hierdie bewerings ondersoek om vas te stel of Matsemela en Malema hulle onder meer aan korrupsie skuldig gemaak het.

Daar was al in die verlede verskeie bewerings van korrupsie en onbekwaamheid teen die burgemeester en dit is ook nie eerste keer dat haar spandabelrigheid die oë laat rek nie. Sy het in 2017 na bewering R70 000 op ’n drie dae lange werksbesoek in Kaapstad uitgegee. Matsemela en haar lyfwag het luidens mediaberigte drie nagte in ’n vyfster hotel ter waarde van R27 000 spandeer. Die paar het ook R22 000 op vliegtuigkaartjies en R65 000 vir die huur van ’n spoggerige motor spandeer.

Die ouditeur-generaal se jaarlikse munisipale ouditverslag vir 2017/2018 het getoon dat munisipaliteite se ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes tot R122 miljard toegeneem het. Luidens dié verslag is die Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit die tweede grootste oortreder ten opsigte van oorbesteding. Dié munisipaliteit het ’n verbysterende R1,12 miljard meer as hul begroting bestee.

“Munisipale beamptes kan nie langer toegelaat word om belastingbetalers se geld só te vermors nie. Daarom beskou AfriForum hierdie aantygings teen Matsemela in ’n baie ernstige lig en verwag van die polisie om die saak deeglik te ondersoek. Ons sal ook die saak moniteer en gereeld verneem na die vordering van die polisie-ondersoek,” sê Natasha Venter, veldtogbeampte by AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

Volgens David Rule, AfriForum se koördineerder vir Limpopo, is dienslewering in die Mogalakwena-distrik uiters swak. Die dorp het verlede jaar etlike maande gebuk gegaan onder ’n voortslepende watertekort en vullis word gereeld weke lank nie verwyder nie.

“AfriForum staan saam met gemeenskappe om hierdie tipe wanbesteding uit die weg te ruim. Indien Matsemela munisipale fondse gebruik het om haar verjaarsdagpartytjie te befonds, bewys dit dat sy geen agting vir die inwoners in die Mogalakwena-distrik het nie, aangesien R1,5 miljoen baie beter aangewend kon word om dienste te lewer,” meen Rule.

Die DA en VF Plus het voor die verjaardag-pretloop al beswaar aangeteken teen die beweerde vermorsing van geld.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, het ook geëis dat Matsemela haar tasse moet pak en het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, gevra om in te gryp. Hy het ook Seaparo Sekoati, LUR vir die tesourie in Limpopo, gevra om ’n taakspan saam te stel om die geldsake van Mogalakwena te ondersoek.

Soortgelyke plasings